Small – ’n Reus vir Afrikaans

Die literêre wêreld ween na die afsterwe van een van sy groot literêre reuse, die bekroonde digter en dramaturg Adam Small.


Die literêre wêreld ween na die afsterwe van een van sy groot literêre reuse, die bekroonde digter en dramaturg Adam Small.

Die Sondagkoerant Rapport berig Small is Saterdag 25 Junie op ouderdom 79 in die Kingsbury-hospitaal in Claremont, Kaapstad, oorlede ná komplikasies ná ’n operasie aan sy linkerbeen om die bloedsomloop te verbeter.

Julian Jansen, Rapport-verslaggewer, skryf dat Small vir ’n lang tyd aan progressiewe hartversaking gely het en weens die pyn in sy been het hy met groot moeite geloop.

Hy is op 21 Desember 1936 op die Bolandse dorp Wellington gebore, maar het sy vroeë kinderjare op Robertson spandeer.

Vanjaar sou hy sy 80ste verjaardag vier.

Luidens Jansen het Small in 1944 saam met sy gesin na Retreat in Kaapstad verhuis waar sy pa skoolhoof geword het. Hier het die jong Adam vir die eerste keer kennis gemaak met die Afrikaans van die stedelike werkersklas. Dit is dié Kaapse Afrikaans wat later ’n kenmerk van baie van sy verse sou word.

In 1954 begin hy medies studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Hy slaan egter gou oor na filosofie en Afrikaans, ’n vak waarin hy “al die Boertjies geklop het”. Hy behaal uiteindelik sy meestergraad in filosofie aan Ikeys in 1957. In dieselfde jaar verskyn sy eerste digbundel, Verse van die liefde.

Ná verdere studies aan die London School of Economics (onder die wêreldbekende Karl Popper) keer hy terug na Suid-Afrika waar hy in 1959 aangestel word as filosofiedosent by Fort Hare, voordat hy in 1960 een van die eerste 13 personeellede van die nuut gestigte Universiteit van Wes-Kaapland word.

In 1963 vertrek hy na Oxford vir verdere studie. Dis hier waar sy idees vir sy bekendste drama, Kanna hy kô hystoe, beslag kry. Die drama word uiteindelik in 1965 gepubliseer.

Ná ’n lang loopbaan as akademikus, skrywer en politieke aktivis, onttrek Small hom in die 1990’s heeltemal uit die openbare lewe.

In 2012 word die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken. ’n Jaar later tree hy vir die eerste keer in byna 20 jaar in die openbaar op met die bekendstelling van ’n nuwe bundel, Klawerjas, sy eerste gepubliseerde werk sedert sy drama Krismis van Map Jacobs in 1983, presies 30 jaar tevore, berig Jansen.

In ’n verklaring ter nagedagtenis aan Small, beskryf die aanlynbeweging Afrikaans.com hom as “voorloper van ’n hele generasie Afrikaanse digters en iemand wat in sy leeftyd ’n belangrike bydrae gelewer het om ’n bewustheid te kweek van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap waarin hy geleef en gewerk het.”

’n Hartseer prof. Theuns Eloff, voorsitter van Dagbreek Trust, finansierder van Afrikaans.com, sê, “hoewel prof. Small aan die einde van sy lewe klein in gestalte was, was hy ’n reus onder sy tydgenote en vir Afrikaans.

“Ons eer sy nagedagtenis en sal voortbou op die groot werk wat hy begin het.”

Small word oorleef deur twee seuns uit sy eerste huwelik, John en Leon, sy vrou Rosalie en hul kinders Peter-John en Zaidee, asook agt kleinkinders.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.