Vroeg Woensdagoggend is die Drakenstein-vallei in ’n chaos gedompel toe watervlakke ná die stortreën oornag vinnig gestyg en verskeie paaie oorstroom het.
Die oorstromings was as gevolg van ’n kombinasie van voortslepende reënweer, die Bergrivierdam wat die afgelope twee weke oorloop, asook die sluise van die Wemmershoekdam wat gister geopen is nadat dié dam ook vol geloop het.
Die Bergrivier, wat die afgelope week reeds sterk vloei, se vlak het hier oornag geweldig gestyg en die rivier het vir die eerste keer in jare sy walle heeltemal oorspoel.
Met die plaaslike nooddienste wat sedert douvoordag op gereedheidsvlak was, is die Langstraatbrug in Noorder-Paarl vroeg Woensdagoggend vir verkeer gesluit as gevolg van die stygende rivier, so ook die Wellington-brug.
Verskeie roetes, soos die R301, Bainskloofpas en Wemmershoek-pad tussen Paarl en Franschhoek asook gedeeltes van paaie in die dorp is weens oorstromings vir verkeer gesluit. Daar is ook probleme op die Simondium-pad.
Verskeie dorpse paaie in die Paarl, Franschhoek en Wellington is verspoel wat gelei het tot verkeersopeenhopings en ure lange vertragings op besige roetes soos Jan van Riebeeck-weg en Oosboschstraat, terwyl die industriële gebied in die Paarl onder water was.
Verskeie bronne beweer dat sommige werkers in die Paarlse industriële gebied aangeraai is om eerder tuis te bly, aangesien persele met water deurtrek is.
Verskeie informele nedersettings in Paarl-Oos en Mbekweni is ook verspoel.
Talle gevalle van verspoelings en modderstortings aangrensend aan die sterk vloeiende riviere is ook aangemeld.
Die Bergrivier is volgens inwoners die volste wat hulle hom al in jare gesien het.
Maandag (12 Junie) het 30 mm reën uitgesak, gevolg deur 25 mm vir Dinsdag, terwyl Woensdagoggend se reënval soveel as 50 mm opgelewer het, wat dit altesaam tot minstens 105 mm vir die week bring.
Nóg swaar reën is gister verwag en vir vandag voorspel en alle nooddienste is op gereedheidsbasis, waaksaam vir enige verdere vloed- of noodsituasies.
In noodgevalle kan inwoners die munisipaliteit skakel by 080 131 3553 of vir uiterse noodgevalle die brandweer by 021 872 2323.
Die Bergrivier-opvangsgebied het teen Maandag (12 Junie) gestyg tot 83,10% teenoor 69,54% ’n jaar gelede. Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het die afgelope week van 63,8% tot 76,6% gestyg en was 66,3% vol ’n jaar gelede.
Die vlakke van ander nabygeleë damme:
. Bergrivierdam: 102,6% (69,04%)
. Voëlvleidam: 54,1% (55,84%)