Nóg twee slimkoppe van die Paarl, Jason Crotz en Volcker Louw, albei leerders van Klein Nederburg Sekondêr, het onlangs hul algemene kennis in die televisieprogram Blitsbrein Junior op die kanaal VIA getoets.

Die twee volg kort op die Paarliet Jan-Hendrik du Toit van Hoër Jongenskool Paarl wat aan die program se eerste episode deelgeneem het.

“Om op Blitsbrein te wees, was ’n groot ervaring vir my omrede niemand in ons familie al ooit genooi is om aan ’n kompetisie op televisie te gaan deelneem nie. Dit was iets nuuts, dus was ek ’n bietjie senuweeagtig om voor die kameras te staan, maar ek het net deurgedruk en my beste gegee,” vertel Volcker (17) heel opgewonde en met ’n breë glimlag.

Die nuus dat hy aan Blitsbrein Junior sou deelneem, het nie dadelik vir Jason (17) ingesink toe hy ingelig is dat hy ’n deelnemer op die program sou wees nie.

“Toe Meneer Loth my ingeskryf het, het ek nie geglo ek sal dit verby die toetsronde maak om deur te druk na die eindronde op televisie nie, maar toe ek dit maak, was dit ’n kwaai gevoel omdat ek op die televisie gaan wees en ek het baie daarna uitgesien,” sê Jason terwyl hy weer daardie opwinding herleef.

Volcker en Jason is aangespoor deur hul Afrikaans-onderwyser, Ernest Loth, om die kans te waag en vir die kompetisie in te skryf. “Hy het gesê hy soek deelnemers; hy wil graag hê leerders van Klein Nederburg moet begin deelneem en aktief raak in sulke kompetisies soos Blitsbrein Junior,” verduidelik Volcker.

Die twee is in kennis gestel dat hul inskrywings suksesvol was en hulle moes eers ’n toetsronde ondergaan voordat die beste kandidate uiteindelik aangewys is. Die episodes is aan die einde van verlede jaar verfilm en al twee seuns het in die gr.10- en gr.11-kategorie deelgeneem. Hulle het vanjaar met hul matriekjaar begin.

Die seuns glo om baie televisie te kyk, het hulle gehelp om hul algemene kennis op te bou. Hulle deel ook ’n groot liefde vir algemene en sportnuus. Terwyl Volcker daarvan hou om ook historiese programme op die Discovery-kanaal te kyk, hou Jason weer daarvan om deur sosiale media soos Instagram te blaai.

Al twee seuns neem sakevakke, waaronder sakestudie, ekonomie, rekeningkunde en wiskunde.

Toevallig stel Jason sowel as Volcker ook daarin belang om verder regte te gaan studeer.

Nog ’n loopbaankeuse vir Jason is rekeningkunde.

Hul deelname aan Blitsbrein Junior het hul ma’s, Selma Crotz en Amanda Louw, verskriklik trots gemaak. Amanda voel die sukses van haar seun is as gevolg van die manier hoe hy grootgeword het, hoe sy en haar man, Jan, sterk staan in geloof en ook hoe hulle die regte keuses op hul lewenspad maak, wat ’n goeie voorbeeld vir hul seun stel.

Selma, aan die ander kant, sê: “Ek voel goed en is baie trots op hom [Jason] dat hy so ver gekom het dat hy kon deelneem en dat hy ’n kans gekry het om homself in die kompetisie te bewys. Dit het hom ook goed gedoen; ek kan dit sien.”

Terwyl Jason en Volcker hard daaraan werk om volgende jaar verder te gaan studeer en ook elke dag aan hul algemene kennis te bou, sien die twee seuns ook daarna uit om in die toekoms weer op televisie te verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.