Foto ter illustrasie. Foto: Agrief


Die Paarl- en Wellington-polisie ondersoek twee afsonderlike voorvalle wat die afgelope naweek op twee plase in die omgewing plaasgevind het. In die voorval in Wellington is die plaasbestuurder deur drie mans in die plaashuis oorval en aangehou, waarna sy van geld, huishoudelike toestelle en twee vuurwapens beroof is.

Die aanvallers se gesigte was bedek en hulle het handskoene gedra, het die plaasbestuurder, wat vir haar veiligheid anoniem bly, vandeesweek aan Paarl Post vertel.

“Ek was die een oomblik nog besig om ’n movie in een van die slaapkamers te kyk. Ek het toe opgestaan, deur die huis geloop en dis toe ek in hulle vasloop.

“Hulle het vermoedelik een van die vensters ordentlik en saggies uitgehaal om toegang tot die huis te kry, want ek het hulle nie hoor inkom nie. Een van hulle het ’n skerp voorwerp gehad wat gelyk het soos iets wat gebruik word om putty by vensters uit te haal,” het die vrou gesê.

“Een van hulle het toe ’n mes uitgehaal en teen my nek gedruk. Hulle het gesê as ek my samewerking gee, sal ek niks oorkom nie.

“Die een het toe by my gebly en op geld aangedring, terwyl die ander twee die huis deursoek het.”

Een verdagte het toe daarop aangedring dat sy geld na hulle oorplaas.

“Ek weet nie hoe hy dit reggekry het nie. Hulle is baie slim met die fone, maar het toe by my foon ingekom en ek moes die bietjie geld wat in my bankrekening was, aan hulle oordra.

“Hulle wou ook weet waar die kluis is. Dis nie my huis nie; ek is net die plaasbestuurder en het toe gesê ek is nie bewus van ’n kluis in hierdie huis nie.

“Hulle het toe op die kluis afgekom en die een ou wou toe weet hoekom ek vir hom lieg en dat hy my kon doodmaak net omdat ek nie met hulle eerlik is nie.”

Sy vertel dat die verdagtes op ’n haelgeweer en ’n gaspistool afgekom het.

Hulle het dit saam met ander huishoudelike goedere in sakke gedruk en wou weet of daar nog ander mense op die plaas is.

“Ek het hulle gesê van iemand anders wat ook hier woon, en hulle het gesê hulle gaan hom ook beroof.

“Hulle het my in ’n kamer probeer toesluit en het toe uit die huis gevlug.”

Sy het kort daarna die paniekknoppie gedruk om die sekuriteitsdienste te ontbied en het in haar motor gaan wegkruip.

Die ander man na wie sy verwys het, is toe nie beroof nie en saam het hulle twee hulp by ’n naburige plaas probeer kry en die polisie is na die toneel ontbied.

“Ek is net dankbaar ek is veilig. ’n Mens hoor oor hierdie soort voorvalle in die nuus. Jy dink nooit dat dit ooit met jou sal gebeur nie,” het die plaasbestuurder gesê.

Kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder en die stasiebevelvoerder in Wellington, het by navraag gesê die polisie ondersoek ’n klagte van huisroof.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.. Die Paarl-polisie is die volgende aand, Saterdag 27 Junie, na ’n soortgelyke voorval op ’n plaas in die Drakenstein-Suid-omgewing ontbied, waar drie mans, ook gewapen met messe, plaasbewoners oorval en beroof het.

Volgens kapt. Louis du Plessis, ’n polisiewoordvoerder in die Paarl, is die polisie omstreeks 21:50 na die plaas ontbied. “Die drie verdagtes het glo toegang tot die huis verkry deur ’n deur wat nie gesluit was nie. Hulle het die slagoffers vasgebind en die toneel met selfone, juweliersware en sowat R1 000 te voet gevlug.”

Sy het ook bevestig dat ’n klagte van huisroof ondersoek word. Niemand is nog aangekeer nie.

In albei voorvalle is die slagoffers ongedeerd.

You need to be Logged In to leave a comment.