Die Wellington-polisie ondersoek ’n saak van inbraak en diefstal nadat ’n slaghuis in Blossomstraat leeg gesteel is.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Basil Seekoei het die rowers Donderdag 17 Januarie toegang tot die perseel verkry deur ’n glasdeur oop te dwing. Die polisie het omstreeks 04:50 by die perseel aangekom waar hulle kratte vleis buite die gebou gevind het.
Die eienaar van die slaghuis het besluit om sy sakeonderneming se deure te sluit. Die eienaar, wat anoniem wil bly, sê rowers het sowat R15 000 se produkte uit die slaghuis gesteel.
“Dit is ’n hoëmisdaadgebied en my werknemers was net onder te veel druk, maar daar is ook ander dinge wat tot dié besluit gelei het,” het hy vertel. “Ek het darem nog twee ander winkels,” voeg hy by. “Vingerafdrukke op die kratte is op die perseel geneem en die ondersoek duur voort,” sê Seekoei.