Skryf in vir ‘Suidooster’ se talentsoek

Die Suidoosterfees se Talentsoektog is nou oop vir inskrywings. Dié gewilde kompetisie, wat reeds vir agt jaar aangebied word, bied kosbare geleenthede vir talentvolle amateurs om raakgesien te word en ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedry


Die Suidoosterfees se Talentsoektog is nou oop vir inskrywings. Dié gewilde kompetisie, wat reeds vir agt jaar aangebied word, bied kosbare geleenthede vir talentvolle amateurs om raakgesien te word en ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedryf te kry.

Vanjaar is dit makliker as ooit om in te skryf. Mense tussen 9 en 35 jaar kan deelneem deur ’n video per WhatsApp na 079 906 7359 te stuur. In die kort video’s moet deelnemers hul besonderhede verskaf en hul spesiale talent met ’n optrede demonstreer. Kategorieë waarin deelnemers hul staal kan wys, is sang, dans, instrumentele musiek en skerpskets-komedie.

Die sluitingsdatum is 15 November om 12:00.

Groot kontant- en ander pryse is op die spel. Die algehele wenner, wat by die Suidoosterfees in 2025 aangekondig word, ontvang R10 000 en kry ’n uitnodiging om ’n gasverskyning in kykNET se gewilde sepie Suidooster te maak.

Die mees belowende danser wat aan die kompetisie deelneem, kwalifiseer vir ’n beurs om vir ’n jaar aan die Kaapse dansskool, Dance for All, te studeer. Daar is ook kontantpryse vir naaswenners.

Kompetisiereëls, asook die bepalings en voorwaardes vir deelname, word op suidoosterfees.com uiteengesit. Dit is belangrik vir voornemende deelnemers om dié riglyne op die webwerf te lees en te volg. Onder-18’s se inskrywings moet deur die toestemming van ’n ouer of voog vergesel word.

Oudisievideo’s moet organiseerders teen 15 November bereik, waarna die beoordelaars semifinaliste sal nooi om werksessies in Kaapstad by te woon om hul vaardighede te slyp vir die volgende kompetisierondes.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.