Is jy ’n kenner as dit by Afrikaans kom? Dan is die ATKV se Junior Afrikaans Olimpiade vir leerders van graad 7 tot graad 9 die ideale geleentheid om jou kennis uit te daag.

Afrikaanse slimkoppe word aangemoedig om in te skryf om hul tegniese taalvaardighede in die vakke Afrikaans: huistaal of Afrikaans: eerste addisionele taal te toets.

Leerders moet een van die twee vraestelle skryf – Afrikaans as huistaal of eerste addisionele taal, ongeag die leerders se huistaal. Die vraestel bestaan uit meerkeuse-vrae en leerders kan vir die olimpiade voorberei deur die 2020-vraestel te bestudeer.

Die huistaal-vraestel bestaan uit afdelings soos stillees, taalkunde, poësie, prosa en drama, en die eerste addisionele taal-vraestel aan die ander kant sal bestaan uit begrip, taal, poësie en prosa.

Inskrywings moet deur middel van die skool geskied. Geen private inskrywings kom in aanmerking nie. Leerders sal ook die vraestelle by hul onderskeie skole skryf.

Alle inskrywings kan eerder aanlyn ingedien word by https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/afrikaanse-olimpiade, per e-pos aangestuur word na Jeanné Naudé by jeannen@atkv.org.za of gefaks word na 086 646 0641. Skole word gevra om te bevestig of die ATKV hul inskrywings ontvang het indien dit gefaks word.

Elke deelnemer moet ’n fooi van R45 betaal. Die bewys van betaling moet aangeheg word om die inskrywing te voltooi. Onvoltooide inskryfvorms kan nie verwerk word nie.

Indien ’n leerder afwesig is of onttrek, sal geen geld terugbetaal word nie, maar enige ander leerder mag in sy of haar plek skryf.

Die ATKV versoek dat alle inskrywings hom voor of op die sluitingsdatum – Vrydag 21 Mei – bereik. Vraestelle sal op 7 September by skole geskryf word.. Kontak Jeanné Naudé by jeannen@atkv.org.za of 011 919 9088 vir nog inligting en die bankbesonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article