Deon Meyer is vanjaar een van die bekwame skrywers wat die Breytenbach-sentrum se skryfskool sal toespreek.Foto:


Skrywers kan nou inskryf vir die Breytenbach-sentrum se Afrikaanse prosa-skryfskool.

Dié gesogte skryfskool word vir die sesde agter­eenvolgende jaar deur die bekroonde skrywer Rachelle Greeff by die sentrum in Wellington aangebied.

Die eerste werksessie, met Suid-Afrika se voor­ste misdaadskrywer Deon Meyer as die gasspreker, vind 2 Februarie plaas.

Kursusgangers kom maandeliks byeen en dié kursus eindig in Oktober.

Tussen dié sessies werk Rachelle via die internet individueel met elke student. Studente kry deurlopend werkopdragte en gedetailleerde terugvoering van hul take, maar werk teen hul eie tempo.

Fokuspunte is die skryf van kortverhale, romans, meningstukke (rubrieke), tydskrifstories, radio­dramas en artikels vir die populêre media. Toneeltekste met potensiaal word ook oorweeg.

Die maandelikse koste van R1 500 sluit in ’n middagete, drink- en snoepgoed sowel as studiemateriaal.

Aansoeke sluit 17 Januarie en aansoekers word 20 Januarie gekontak.

E-pos navrae aan Jessica Ruiters by info@breytenbachsentrum.co.za of bel haar in kantoorure by 021 873 2786. Rig enige navrae ook aan Rachelle by rageltjieg@gmail.com. Volledige besonderhede oor hoe om in te skryf, is op die sentrum se webblad (www.breytenbachsentrum.co.za).

You need to be Logged In to leave a comment.