Voornemende skrywers kan nou inskryf vir die Breytenbach-sentrum in Wellington se vyfde jaarlikse prosa-skryfskool, wat in 2019 vir tien maande, nie meer net nege nie, aangebied word.
Die kursus, met die bekroonde skrywer Rachelle Greeff as fasiliteerder, en soos in 2018 met die ondersteuning van die Jannie Mouton-stigting, begin 2 Februarie 2019. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Sondag 23 Desember.
Volledige besonderhede oor die kursus en hoe om in te skryf, is op die Breytenbach-sentrum se webtuiste by www.breytenbachsentrum.co.za beskikbaar. Inligting kan ook by Francois Lötter by 021 873 2786 of francois@breytenbachsentrum.co.za gekry word.
Die skryfkursus fokus primêr op die skryf van kortverhale en romans. Hoogstens twee toneeltekste word oorweeg. Die kursus kan ook aanlyn gedoen word, teen dieselfde koste van R1 500 per persoon per maand.
Oor die eerste roman wat in die skryfskool ontwikkel is, Die daggaboer, sê die resensent Jean Meiring in Rapport: “Dit is ’n opwindende, soms onpeilbare nuwe simbaalgeskal in die Afrikaanse letterkunde”. Die skrywer van dié debuut, Jean-Pierre de Kock, het voor die Breytenbach-skryfskool ’n paar ander skryfskole bygewoon. Hy het aan Huisgenoot gesê: “Die een onder leiding van Rachelle Greeff was vir my van groot waarde.” Die daggaboer is deur Human & Rousseau uitgegee.