2024 se mediumtermynbegroting het gekom en gegaan met weinig substansie en niks insiggewend te bied wat die land moontlik hoop kan gee vir ’n beter lewe vir die vuisvoos massas in Suid-Afrika wat sukkel om kop bo water te hou nie.
Ekonome het dit kil ontvang en die finansiële markte het dit gou verdiskonteer omdat dit weinig verskil kan maak aan die groter ekonomiese prentjie van diegene wat hul sente reeds lankal moet omdraai vir oorlewing asook die klein groep belastingbetalers en gemarginaliseerdes in die land wat van staatstoelaes afhanklik is. Ekonomiese lyding vind plaas daar waar iemand vanaand dalk nie geld het vir ’n brood nie of nie meer weet hoe hulle môre huis en haard aanmekaar gaan hou nie.
Die enorme staatsuitgawes word in stand gehou met opeenvolgende nuwe lenings wat terugbetaal moet word teen rentekoerse wat nie volhoubaar is nie ter wille van ’n stem vir iemand wat jaar ná jaar kiesers mislei met beloftes van ’n beter lewe.
Daar word verwag dat verbruikers die gordel moet intrek terwyl die regering se bultende amptenarekorps gemaklik kan voortgaan asof net sekere mense die prys vir swak leierskap en bestuur moet betaal, soos wat gedurende covid ook die geval was. ’n Kantelpunt is besig om ons in te haal. Wat dan?
Meer en meer geld gaan bestee word om duidelik falende staatsentiteite kunsmatig aan die lewe te hou, soos Eskom, Prasa en die SAL. Dit is soos ’n mot wat in ’n kersvlam vasvlieg – hy gaan vir seker ’n duur prys vir sy verstardheid betaal.
Verder is dit duidelik ook ’n populistiese begroting omdat die verkiesing net om die draai is; dit gebeur van verkiesing tot verkiesing en SA sink al hoe dieper weg in ’n moeras van ’n finansiële verknorsing waaruit geen kortpad of maklike ontkoming moontlik is nie. Die olifant in die kamer is Eskom, die SAL, die polisiemag, verdediging, skole, universiteite, munisipale dienste, substandaard-staatshospitale en korrupsie wat steeds gedy.
Hierdie prentjie is grusaam, en nou moet ’n mens jou afvra hoe verwoord jy jou ontevredenheid en kommer? Bly ons stil, gly ons of bly ons?
Die voor-die-hand-liggende korttermynoplossing is om jou ontevredenheid met jou stem by die stembus te toon.
Die tweede stap is om verantwoordelike burgerskap aan die dag te lê deur nie-destruktiewe aktivisme en deelname aan vrywillige regerings- en munisipale strukture wat jou in staat sal stel om jou stem en deelname te laat geld op vlakke waar jy wel ’n verskil kan maak.
Die Springbokke kon die land mobiliseer rondom die idee van eensgesindheid – waarom nie ook teen ekonomiese vergrype soos wat tans aan die orde van die dag is nie?
As belastingbetalers dink die situasie is onverkwiklik, moenie idilliese beelde hieroor koester nie – dit is so troebel as wat dit lyk.
Ons kan ongelukkig nie hieraan ontkom nie, en onthou – die glas is net half vol en nie half leeg nie.
Oorweeg logiese stappe om onmiddellik beheer van jou lewensruimte te neem – niemand anders gaan dit vir jou doen nie.
Ons het nou kreatiewe leierskap nodig en kan steeds ’n wenland word. Kom ons sit nou skouer aan die wiel of kom ons sak in ’n skrum teen middelmatigheid wat uitgeroei moet word! . Dirk Breytenbach is die voorsitter van die Drakenstein-sakekamer.