Die diefstal van skroot het die afgelope jaar die hoogte ingeskiet en kos jaarliks die Drakenstein-munisipaliteit miljoene rande.

Mangatdeksels, krane, kabels, koperpype en des meer verdwyn byna elke dag vanaf noodsaaklike infrastruktuur.

Marius Wüst, direkteur ingenieursdienste by die munisipaliteit het gesê diefstal en vandalisme rig groot skade aan veral die munisipaliteit se waterdienste en rioolafdeling. Dit is watermeters, veiligheidsheinings, rame en deksels van die munisipale infrastruktuur wat geteiken word.

Die beraamde koste vir die vervanging van genoemde infrastruktuur beloop sowat R889 000 vir die afgelope finansiële jaar, sê Wüst. Ook het kabeldiefstal by die Wellington-rioolwerke sowat R2 200 000 se herstelskade aan die waterontsmettingstelsel by dié rioolwerke tot gevolg gehad.

Volgens die munisipaliteit se elektro-tegniese dienste-afdeling word ongeveer R5 miljoen se koper en koperkabels jaarliks gesteel. Die munisipaliteit vervang dié kabels met aluminium geleiers waar moontlik.

Sowat 161 mangatdeksels met ’n waarde van sowat R190 000, met nog indirekte kostes van ’n verdere sowat R150 000, is ook reeds vanjaar gesteel.

Deksels wat vervaardig is uit gietyster het ’n skrootwaarde. Daarom vervang die munisipaliteit hierdie deksels met die wat vervaardig is uit smeeyster- en veselsamestellingsmateriale wat geen skrootwaarde het nie.

Die ander gebied waar groot verliese gely word weens diefstal en vandalisme is padtekens en verkeersligte.

In die 2021-’22-boekjaar het die munisipaliteit 108 padtekens verloor teen ’n verlies van sowat R92 000 in materiale.

Die beraamde koste ten opsigte van arbeid en ander verwante kostes beloop sowat R37 000.

Om hierdie probleem aan te spreek, vervang die munisipaliteit padtekens en pale met versterkte veselglas-items wat geen skrootwaarde het nie.

Drakenstein se verkeersligte loop ook gereeld deur onder vandalisme, met die een van die grootste gevalle die ligte by die Orleans / Van der Stel-aansluiting waar skade van sowat R200 000 oor die afgelope drie jaar gely is.• The Drakenstein Municipality loses millions of rand each year due to scrap metal theft.

You need to be Logged In to leave a comment.