Polisiebeamptes kon daarin slaag om hierdie vuurwapen en ammunisie in te win na hul een van die vermeende rowers in hegtenis geneem het.


Drie vermeende rowers het vermoedelik Vrydag (16 Desember) op ’n plaaslike winkel in Dal Josafat toegesak en die skote het omtrent geklap.

Provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi het aan Paarl Pos vertel dat drie mans glo die winkel betree het en geld vanuit die kasregister by die eienaar geëis het.

“Die geld is deur die vermeende rowers geneem en hul het van die toneel probeer vlug. Een van die rowers het egter begin om skote met ’n pistool af te vuur, in die rigting van die eienaar en sy seun. Die eienaar het toe teruggekap en ook ’n skoot na die rowers in verdediging gevuur en een van die rowers getref en beseer.”

Die plaaslike polisie was in die omtrek toe hul skote hoor afgaan en het dadelik ondersoek gaan instel. Volgens Swartbooi was hulle enkele oomblikke later op die toneel en kon hulle daarin slaag om een van die rowers te arresteer.

“Die polisie het om agternagesit en kon hom vang. ’n 9 mm pistool en ammunisie is op hom gevind, waarna hy toegesluit is weens hierdie misdryf,” het Swartbooi verduidelik.

Die 44-jarige rower is in hegtenis geneem en sal binnekort in die plaaslike hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.