Desmoray Prins (links) en Erika du Plessis (regs) oorhandig ’n paar skoolskoene aan ’n opgewonde Alfredo Sheldon (gr. 1).


Onder die warm somerson en deur die koue wintersdae het ’n plaaslike vroeëkinderontwikkelingsbeampte van die Paarl opgemerk hoe leerders van Dal Josaphat Primêr kaalvoet die pad na die skool vir onderrig moet aandurf.

Vir Desmoray Prins was dit hartverskeurend om te aanskou en sy het dit haar missie gemaak om met ’n plan en oplossing vorendag te kom.

“Ek het van die belangrikheid van behoorlike skoene geweet. Nadat ek ’n paar keer gestop het om kinders se voete te meet en skoene te koop waar ek kon, het ek vinnig besef die behoefte is veel groter as wat ek alleen kon takel.”

Voordat die nuwe skooljaar begin het, het Prins eendag besluit om na ’n goeie vriendin, Erika du Plessis, uit te reik. Die twee het oor Prins se doelwitte vir die jaar gesels, waaronder die skoolskoene wat sy graag aan elke kind wat by Dal Josaphat Primêr in die nood is, wil verskaf voordat die winter aanbreek.

“Erika se man, Wayne du Plessis, het die gesprek gehoor en dadelik ingespring om te help. Saam met sy vrou het hulle hul ondersteuning toegesê deur aan te bied om skoolskoene te koop.

“Ek het ook op sosiale media uitgereik en inwoners wat nie hul SPAR-promosiestrokies gebruik nie, gevra om dit vir my te hou en dit nie weg te gooi nie, want ek wil dit gebruik om skoolskoene te koop.”

Dié kruidenierswinkel het tot 23 Februarie ’n promosie aan die gang. Wanneer jy R350 of meer by een van die winkels bestee, kom jy in aanmerking om ’n paar skoolskoene teen R70 te koop.

Prins se bewusmaking oor die projek het Ricardo Cant van die Paarl, wat Prins as iemand met ’n hart vir die gemeenskap beskryf, bereik. Cant het 150 paar skoolskoene geborg en Prins aan ’n verskaffer wat hoëgehalte skoene teen ’n bekostigbare prys verkoop, bekendgestel.

“Ek is baie dankbaar teenoor Ricardo, Erika en Wayne dat hulle ingetree het om ’n werklike verskil in hierdie kinders se lewe te maak. Tussen hulle drie kon ons meer as 400 pare skoolskoene aan die skool oorhandig. ’n Eenvoudige paar skoene laat ’n kind weer ingesluit onder sy/haar vriende voel. Dit herstel hul waardigheid. Hoewel Wayne en Erika tans in Johannesburg gebaseer is, behou hulle ’n sterk verbintenis met die Drakenstein. Erika, wat ’n speelparkonderneming besit, het voorheen haar toewyding tot onderwys getoon nadat sy verlede jaar ’n opvoedkundige speelpark ter waarde van R680 000 in die Drakenstein geborg het. ”

Prins doen ’n beroep op die gemeenskap om saam te span en die kinders by te staan – veral dié wat nie bevoorreg is nie.

“Ek voel kinders is die hartklop van ons toekoms. Hul drome, hoop en potensiaal hang af van die liefde, leiding en ondersteuning wat ons vandag aan hulle gee. Kom ons wees diegene wat hulle ophef, beskerm en bemagtig om hul volle potensiaal te bereik – nie net nou nie, maar ook in die wintermaande,” sê Prins.

besighede ’n helpende hand sal uitsteek, nie net na Dal Josaphat Primêr nie, maar na ander skole in nood. Selfs die geskenk van ’n warm trui kan ’n kind se ervaring van die winter verander. Hierdie inisiatief dien as ’n herinnering dat klein dade van vriendelikheid, wanneer dit vermenigvuldig word, ’n diepgaande impak op jong lewens kan skep.”

You need to be Logged In to leave a comment.