Skoolrekenaars bemagtig almal

’n Visie van ’n plaaslike onderwyser om sy skoolgemeenskap op te hef, het ’n rimpeleffek by ses Suid-Afrikaanse universiteite asook die Europese Unie (EU) gehad.


’n Visie van ’n plaaslike onderwyser om sy skoolgemeenskap op te hef, het ’n rimpeleffek by ses Suid-Afrikaanse universiteite asook die Europese Unie (EU) gehad.

Dit is onlangs bewys met ’n besoek van ’n afvaardiging van die Europese Unie en lede van Universiteit van Wes-Kaapland en Nelson Mandelabaai-universiteit aan Wellington Primêre Skool waar groot dinge stilletjies besig is om te gebeur.

Neil Marthinus, die rekenaar­fasiliteerder verbonde aan Wellington Primêre Skool, vertel: “Dit was nog altyd my visie as onderwyser om ons gemeenskap volhoubaar op te hef en rekenaars as medium te gebruik. Later het die Wes-Kaapse onderwys­departement met die Khanyia-rekenaar­geletterdheidsprogram begin om leerders rekenaargeletterd te maak. Hierdie projek is later gestaak en ons sit toe met ’n volledige rekenaar­laboratorium.

“’n Advertensie deur Chris Vermeulen van die houermaatskappy Let’s Talk vroeër vanjaar op Facebook het by my visie om gewone mense digitale burgers te maak, aangesluit.”

Die Universiteit van Kaapstad is deel van ses universiteite in Suid-Afrika wat digitale vaardighede by gemeenskappe ontwikkel en hierdie loodsprojek by Wellington PS was ’n eerste in ’n landelike gemeenskap.

Die projek is deel van die nasionale regering se inisiatief om digitale vaardighede te gebruik om gemeenskappe volhoubaar te ontwikkel.

Die Europese Unie wil Suid-Afrika as ’n derdewêreldland op datum bring met die digitale era waarheen alles beweeg.

Marthinus se visie om sy rekenaar­vaardighede en liefde vir rekenaars met sy leerders en gemeenskap te deel ten einde mense te bemagtig, word dus deur die EU ondersteun en sal later by meer skole ontplooi word.

Volgens Chris is die projek nie bloot rekenaargeletterdheidsklasse nie, maar ’n vertrekpunt om mense digitale burgers te maak en geleenthede te gebruik wat die digitale ekonomie hulle bied om hul lewensgehalte te verbeter.

Audrey Hendricks, ’n fabriekswerker wat die Saterdagklasse bygewoon het, het opgewonde vertel hoe die program haar bemagtig het.

“My benadering tot rekenaars het drasties verander en my in ’n groot mate tegnologies toegerus het as student in boekhouding,” het Audrey trots vertel.

Marthinus het ook die lof van sy twee klasassistente by Wellington PS se dramatiese vordering met die rekenaars besing. Hulle kan nou ook ander opvoeders se administratiewe las met hul nuwe kennis en vaardighede verlig.

Dit bewys dat die loodsprojek by Wellington Primêre Skool groot belofte toon om gemeenskappe volhoubaar te ontwikkel en digitaal voor te berei.

Wellington PS bedien 1 105 leerders waarvan 50% uit informele neder­settings in en om Wellington kom, 30% van plase af is en 20% uit omliggende woonbuurte van die skool met 28 opvoeders op die huidige diensstaat kom.

Die skool se visie is om die sentrale punt te wees om hul gemeenskap te ontwikkel.

Vermeulen vertel dat hul maatskappy intens betrokke is by sosiale ontwik­keling en transformasie in veral agter­geblewe gemeenskappe met die fokus op vaardigheidsontwikkeling.

Wellington PS was die afgelope ses maande die basis van hul loodsprojek wat hoofsaaklik op die werklose jeug en vroue gefokus het.

Die projek sal in 2018 by die Sonop Primêre Skool, Desmond Tutu Hoër­skool in Mbewkeni, Wesbank Sekondêre Skool in Malmesbury asook in die Worcester-omgewing uitgebrei word.

Julie Adair, die programbestuurder van die Common Good First-program in Skotland en ’n betrokkene by die EU, het Vermeulen en Marthinus se projek geloof en beloof dat die EU langtermyn­planne het om die projek verder te ondersteun en uit te bou.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.