Die Mededingingskommissie het in 2021 ’n riglyn gepubliseer om skole, ouers en beheerliggame te help om meer mededingende en billike praktyke te volg wanneer skooldrag en leer- en onderrigmateriaal gekoop word. Die mededingingskomissie het die publiek in ‘n onlangse verklaring aan hierdie riglyn herhinner – veral in die lig van die jaarlikse stygende koste van skoolklere, skryfbehoeftes en handboeke.
Die verklaring het ook bekendgemaak dat die kommissie ’n nuwe moniteringsinstrument, wat pryse en verskaffers van skooldrag dophou, tans ontwikkel en na verwagting voor die einde van 2026 by alle skole in gebruik sal wees.
Die riglyn wat in 2021 gepubliseer is, het ontstaan nadat die kommissie sedert 2010 klagtes ontvang het oor skole wat eksklusiewe ooreenkomste met spesifieke skooldragverskaffers gesluit het.
Tussen 2020 en 2025 is altesaam 490 klagtes ontvang, waarvan 465 reeds afgehandel is. Die gevolg was dat ouers gedwing is om hoër pryse vir noodsaaklike skoolitems te betaal. Die kommissie het ’n landwye ondersoek in 2017 van stapel gestuur teen verskeie skole en vervaardigers en/of verskaffers van skooldrag, weens moontlike misbruik van oorheersende markposisies en beperkende sakepraktyke. Terselfdertyd is verskeie ingrypings gedoen om mededinging in die verkryging van skooldrag en ander leerverwante goedere en dienste te bevorder.
Volgens die kommissie het hierdie proses ’n duidelike inligtingsgaping blootgelê, luidens die verklaring.
Dit het gelei tot die ontwikkeling van die riglyn, wat verduidelik wat anti-mededingende gedrag behels en hoe pro-mededingende beginsels kan help om die finansiële las op ouers te verlig.
Die doel van die riglyn is om bewustheid te skep oor die voordele van mededinging, skole aan te moedig om meer as een verskaffer aan te stel, ouers en voogde by verkrygingsprosesse te betrek en beheerliggame te help om beleide te ontwikkel wat regverdige en oop mededinging bevorder.
Die kommissie beklemtoon dat samewerking tussen skole, ouers, verskaffers en beheerliggame ’n sleutelrol vervul om pryse te verlaag.
’n Belangrike deel van die riglyn is die sogenaamde “Onderneming om aan mededingingsbeginsels in die verkryging van skooluniforms te voldoen”. Deur hierdie onderneming te onderteken, verbind skole en beheerliggame hulle daartoe om mededingende tenderprosesse te volg, meer as een verskaffer aan te stel, eksklusiewe ooreenkomste te beperk en kontrakte tot hoogstens vyf jaar te beperk.
Skole word ook aangemoedig om meer generiese skooldragitems te kies wat by verskeie kleinhandelaars beskikbaar is. Luidens die verklaring het hierdie reeds ’n merkbare uitwerking gehad.
’n Opname deur die mededingingskomissie in 2022 het getoon dat bykans 90% van die openbare en onafhanklike skole wat deelgeneem het, bewus was van die riglyn.
Hoewel baie skole reeds stappe gedoen het om daaraan te voldoen, het sekere skole dit nie toegepas nie – onder meer omdat die riglyn nie verpligtend is nie of weens ’n gebrek aan kennis en kapasiteit.
Sedert die bekendstelling van die riglyn het die kommissie ook meer klagtes van ouers ontvang, wat dit moontlik gemaak het om direk in te gryp waar skole nie voldoen nie.
Die kommissie beklemtoon egter dat hy nie pryse reguleer nie, maar eerder poog om mededingende markte te verseker, wat uiteindelik tot laer pryse en meer keuses vir verbruikers lei. Hoewel geen skole tot dusver vir nie-nakoming vervolg is nie, sê die kommissie in sy verklaring dat skole reeds voldoende tyd gehad het om die nodige maatreëls in te stel.
Ouers wat vermoed dat hul kind se skool steeds anti-mededingende praktyke volg, kan ’n klagte by die kommissie indien.
LEES OOK: Dié riglyne help bepaal of jou kind emosioneel gereed is vir graad 1
Paarl Post het by drie klerewinkels wat skoolklere verkoop, gaan aanklop om hul pryse te vergelyk. Hierdie mandjies sluit net basiese skooldrag in.
Volgens Ackermans se aanlyn winkel sal ‘n mandjie bestaande uit een wit kortmouhemp, ‘n pak van drie grys sokkies, een grys kortbroek, een paar sintetiese skoolskoene en ‘n gordel vir ‘n laerskoolseun ongeveer R570 kos. Vir ‘n laerskoolmeisie sal ‘n mandjie bestaande uit een wit kortmouhemp, drie pare wit sokkies, een grys romp en een paar sintetiese skoolskoene R480 kos.
By PEP kos een wit kortmouhemp, twee pare lang grys sokkies, een grys kortbroek, ‘n paar sintetiese skoolskoene en ‘n gordel ongeveer R370 vir ‘n laerskoolseun teenoor R285 vir ‘n laerskoolmeisie vir een kortmou wit hemp, een grys romp, twee pare wit sokkies en ‘n paar sintetiese skoolskoene.
‘n Mandjie vir ‘n laerskoolseun by Woolworths – bestaande uit twee wit kortmouhemde, drie pare lang grys sokkies, twee grys kortbroeke en een paar sintetiese skoolskoene – kos ongeveer R800. ‘n Laerskoolmeisie se uniform, bestaande uit twee wit kortmouhemde, twee grys rompe, vyf pare kort wit sokkies en ‘n paar swart sintetiese skoolskoene kos ook R800.


