Bo is die groep van Klein Nederburg Sekondêr wat in die Artscape se Arena-teater gaan optree.


Die leuse van Klein Nederburg Sekondêr se dramagroep is “Create, Reach and Achieve the Arts” en dis presies wat hy die afgelope paar jaar doen.

Die skool presteer nie slegs op akademiese en sportgebied nie, maar blink ook uit op kultuurvlak, veral op die verhoog.

Hoewel drama as buitemuurse aktiwiteit aangebied word, het die skool al verskeie produksies op die planke gebring, onder meer Eendag is daar, ’n sprokie vir grootmense geskryf en geregisseer deur Ernest Loth.

Die skool het ook presteer met Pad na vergifnis, gegrond op Melvin Whitebooi se kortverhaal, Op soek na Johnnie September. Dis verwerk en onder spelleiding van Ernest Loth.

Verlede jaar het die skool se dramagroep hulde gebring aan een van ons ikoonskrywers, Adam Small, met die produksie Adam Small die revue wat ook in die Artscape se Arena opgevoer en staande toegejuig is.

Die choreografie van die danstonele in die revue is behartig deur Vershwille Seconds en die regie is behartig deur Loth en Caureen Small.

Tans doen die groep sy finale afronding aan sy splinternuwe produksie, Simunye, we are one ons is een, ’n viering van ons diversiteit.

Die samestelling van die produksie word weereens behartig deur Ernest Loth en hy word bygestaan deur die choreograwe Bernelee Fortuin en Vershwille Seconds.

Volgens Loth bied die energieke musiek-, dans- en sangproduksie ’n uur van vermaak uit die boonste rakke wat die gehoor op ’n reis gaan neem deur ons land se onderskeie kulture.

“Ek hoop dit sal gehore ’n kopskuif laat maak en laat besef ons moet ophou om van ’n afstand af mekaar waar te neem en afbrekende kritiek te lewer. Ons moet besef ons eenheid lê in ons andersheid opgesluit.

“Al verstaan ons soms nie mekaar se gelowe en kulture nie, moet ons dit ten minste respekteer as ons Suid-Afrikaanse kultuur.

“Van die ossewa tot die skild-en-spies tot die riel en samoosas tot Simunye kan vergelyk word met ’n pot kos waarvan elke gehoorlid ’n skeppie op die bord gaan kry om met die oë, ore en hart te proe.”

Die produksie word geborg deur die Suidoosterfees en die National Theatre Initiative. Die vertonings is 28 en 30 April in die Artscape. Kaartjies is by Computicket verkrygbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.