Ewan-Nize Gerber was verlede jaar een van die topmatrieks aan die Hugenote Hoërskool op Wellington.
Toe die finale matriekuitslae vroeg in Desember verlede jaar bekend gemaak is, was sy egter nie, soos almal verwag het, een van die Dux-leerders van die skool nie. Die eer het Francesca Strydom toegekom.
Ewan-Nize se Engels-onderwyser, Basie van Wyk, het egter, toe hy die finale uitslae agterna deurkyk, vir Ewan-Nize se ouers gesê hulle behoort haar Engels-vraestel te laat oormerk. Sy het, volgens hom, heelwat swakker in die Engels-vraestel vir die finale eksamen as in die loop van die jaar gevaar.
Die vraestel is oorgemerk en daar is bevind dat haar finale punt vir Engels eintlik aansienlik meer behoort te wees as wat sy gekry het.
Ná die regstelling het Ewan-Nize loshande gewen en is as Dux-leerder aangewys.
Toe die nuus bekend gemaak is, het Ewan-Nize egter gesê sy sal die Dux-toekenning slegs aanvaar as die skool ook erkenning aan die aanvanklike wenner, Francesca Strydom, gee.
Daar is uiteindelik besluit dat Ewan-Nize en Francesca albei as Dux-leerders vir 2016 aangewys sal word.
Ewan-Nize het haar Dux-toekenning amptelik by ’n prysuitdeling-geleentheid vandeesweek by die skool ontvang.
Sy studeer tans vir die graad BCom-LLB aan die Universiteit van Stellenbosch.