Skool spog met nuwe gr.R-klas

’n Landelike skool spog met ’n splinternuwe gr.R-klas danksy Drakenstein-munisipaliteit en die plaaseienaars van Haaskraalpad.


’n Landelike skool spog met ’n splinternuwe gr.R-klas danksy Drakenstein-munisipaliteit en die plaaseienaars van Haaskraalpad.

Die klaskamer van Bergrivier NGK Primêr is Woensdag 16 Mei deur die burgemeester van Drakenstein, Conrad Poole, geopen.

Die skoolbeheerliggaam, personeel, leerders en ouers was oorstelp toe die eerste gr.R-klassie, ’n houthuisie, opgerig is.

“Die skool kon in die verlede nooit groot projekte aanpak nie, omdat die skool op die lys vir skoolsluiting was,” sê Rosinda Swarts, waarnemende skoolhoof.

Bergrivier was in 2012 een van die 27 skole wat hul deure moes sluit omdat hul leerdertalle te min was en ook omdat multigraadklasse onderrig word.

Volgens Swarts het die Wes-Kaapse onderwysdepartement gemeen die leerders ontvang nie gehalte-onderrig nie, omdat daar meer as een graad in ’n klas is wat onderrig moet word.

Maar die Bergrivier-gemeenskap het daarteen geveg. In September 2017 was die skool en die gemeenskap baie verlig toe hulle die nuus ontvang dat die skool kan oop bly.

“Ons het onmiddellik aan die werk gespring en begin met ons eerste groot projek. Die gr.R-klassie was ons eerste prioriteit aangesien ons in die verlede so tussen 11 en 19 leerders gehad het en nou 28 leerders in ’n houthuisie moes akkommodeer,” sê Swarts.

Ná onderhandelings met die ouers, plaaseienaars, die kerk en ook die wyksraadslid, het die personeel dadelik met die projek weggespring en binne vier maande is die klassie gebou.

’n Dankbare Swarts vertel: “Die grootste deel van die geld het van Drakenstein-munisipaliteit gekom vir die oprig van die klaskamer en die ander deel van die plaaseienaars en deur insameling van die ouers.”

Bergrivier se personeel en leerders is ook dankbaar vir die VGK Wellington wat besig is om die skool binne en buite te verf en ook die ouers vir hul bydrae en vir almal wat betrokke is by die skool.

Die skoolgebou is in 1950 deur die Malan-familie aan die VGK Wellington geskenk met die doel om ’n kerk te bou vir al die mense van die plase in hierdie omgewing. Maar in 1961 is besluit om die gebou eerder as ’n skool te gebruik.

Die skool spog vandag met 107 leerders en agt personeellede. Hulle is ook baie trots op hul volledig toegeruste biblioteek met internet, wat deur die Drakenstein-munisipaliteit beman en gefinansier word.

“Ons geletterdheidsyfer het vanjaar met 44% verbeter. Ons moedig ons leerders aan om ’n liefde vir lees te kweek,” sê Swarts.

As dit reën, het die kinders nie plek om te sit nie, behalwe in die klaskamers.

Verder sê Swarts die kinders van haar skool hou daarvan om pouses met mekaar te speel en dus wil hulle graag die speelterrein en klaskamers opknap.

“Ons droom daarvan om ook aan krieket, netbal en rugby deel te neem, maar ons skool het nie op die oomblik ’n sportveld nie.”

Tans neem die leerders slegs aan landloop deel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.