’n Laerskool in Wellington is die afgelope maande telkemale deur boewe geteiken. Hillcrest Primêr het reeds hierdeur duisende rande se skade gely.
Volgens Julius Williams, die skoolhoof, vind hierdie inbrake gereeld oor naweke plaas.
Hillcrest Primêr is ’n skool sonder skoolfooie en word deur die staat gesubsidieer. Dus is die skool se geld baie beperk en weens die verliese wat deur die inbrake gely word, word die skool finansieel swaar getref. Die skool het dan onvoorsiene uitgawes vir herstelwerk – iets wat nie altyd moontlik is nie.
Williams vertel: “Die diewe knip elke keer ons alarm en interkom se drade af. Ons vermoed dat dit gedoen word om as skroot verkoop te word. Dit kos ons nou byna R80 000 om die skade te herstel.”
Williams pleit by die gemeenskap om eienaarskap van die skool te neem en na vore te kom as die perseel gevandaliseer word.
Williams is van mening dat die geld wat ingesamel word eerder aan onderrig bestee moet word.
Alle klagtes is reeds by die Wellington-polisie asook Veilige Skole aangemeld.
Die personeel vra die gemeenskap om die oë oop te hou vir verdagtes wat die skoolterrein betree, en dadelik die polisie by 021 864 8440 te bel.
Inwoners kan ook alle inbrake, vandalisme en ander skoolverwante misdaad aan die Veilige Skole-inbelsentrum se tolvrye nommer by 0800 45 46 47 aanmeld.
* A local school in Wellington is continuously being targeted by thieves and vandals who repeatedly destroy school property.