Hugenote Hoërskool het ’n groot mylpaal in die geskiedenis van die skool bereik met die opening van ’n astrobaan.
Oudleerder Casper Lategan, wie se hart vir Hugenote klop, het by verlede Vrydag se opening van die baan die beplanning en baie jare se harde werk, lang ure, deursettingsvermoë en insette van ouers, leerders en die gemeenskap geprys. Dié mense het nie hul tyd, geld en energie gespaar wanneer dit by dié projek gekom het nie.
Philippa van Niekerk, ’n voormalige ouer van die skool (al drie haar seuns was hier op skool, en die laaste een was verlede jaar matriek) het die projek al die jare gedryf. Tien jaar gelede het sy teruggekeer van Potchefstroom van ’n hokkietoernooi waar Boland-afrigters genoem het dat leerders wat nie op ’n astrobaan speel nie, nie langer in ’n Boland-span opgeneem kan word nie.
Met haar terugkeer met dié boodskap het sy onmiddellik begin met kwotasies.
Die eerste kwotasie in 2007 was R2,9 miljoen en daarna het sy tussen 2008 en 2010 verskeie ander moontlikhede probeer, maar dit was tevergeefs.
In 2011 doen sy weer ’n voorlegging en kwotasies en in daardie stadium staan die projek op R3,88 miljoen. Maar die tyd was nog nie reg om die baan te bou nie.
In September 2014 het hulle uiteindelik toestemming gekry om voort te gaan nadat die projek na ouers van die skool verwys is en ’n totaal van 70% ten gunste van die astrobaan was.
’n Komitee is gestig en het bestaan uit ’n basaar en tegniese deel wat ’n doel gestel het om R800 000 in te samel. Dit het hulle behaal met verskeie verkope en insamelingsprojekte.
Vandag is Hugenote baie trots op die harde werk deur die beplanners en projekbestuurders wat dit moontlik gemaak het om die baan daar te stel wat aan die gemeenskap ’n diens lewer en leerders die samelewing instuur om hul plek beter te kan volstaan.