Dit is hoe Dal Josafat Primêr se nuwe skoolgebou sal lyk wanneer die bouwerk afgehandel is.


Die bouwerk aan die nuwe skoolgebou vir Dal Josaphat Primêr in die Paarl is drie jaar nadat konstruksie begin het, nog nie voltooi nie.

Kerry Mauchline, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het vroeg in 2023 gesê die skoolgebou sal na verwagting teen September 2024 voltooi wees sodat personeel en leerders na die nuwe perseel kan skuif.

Die nuwe skool sal tot 1 850 leerders kan huisves, met tot 40 leerders in een klas.

Die nuwe gebou is ook net sowat 2 km van waar die huidige skool nou gevestig is.

Die bou van die nuwe skoolgebou is nodig “om in die verhoogde vraag na skoolplasing as gevolg van nuwe ontwikkelings in die omgewing te voorsien,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), op ’n vorige geleentheid gesê.

Hammond het vandeesweek bevestig dat konstruksie nog nie afgehandel is nie.

“Die projek is vertraag weens die kansellasie van die kontrak aangesien die kontrakteur nie in terme van ons ooreenkoms presteer het nie. Die kontrakteur is vervang met ’n nuwe kontrakteur, wat nou op die perseel is.

“Die voltooiingsdatum moet bevestig word.”

Die nuwe perseel sal pronk met geriewe soos ’n saal, ’n netbal- en basketbalbaan, asook ’n sokker- en rugbyveld

“Die nuwe skool sal twee multimediasentrums, een wetenskap-laboratorium en twee veeldoelige klaskamers en hulpbronklaskamers hê om bykomende akademiese aktiwiteite en ondersteuning aan leerders met leerprobleme te gee.”

. Intussen is leerders van New Orleans Primêr terug op hul skoolterrein nadat die skoolgebou twee jaar gelede as onveilig verklaar is.

Leerders is vir tyd en wyl na nabygeleë skole vir onderrig verskuif, terwyl die departement besig was met opknappings en die beveiliging van die skoolgebou.

Kervin Bouwers, die voorsitter van dié skool se beheerliggaam, het bevestig dat die leerders reeds aan die begin van die vierde kwartaal verlede jaar terug by hul eie skool was.

“Die skool is in sy geheel met ’n nuwe skoolgebou vervang. Die leerders is nou in ’n nuwe skool wat veilig is,” verduidelik Hammond.

You need to be Logged In to leave a comment.