Skommeling van Drakenstein-burgemeesterskomitee ’n ‘politieke foefie’

Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het Dinsdag (29 Oktober) op ’n raadsvergadering verskeie portefeuljeveranderings aan sy burgemeesterskomitee aangekondig, wat insluit die samesmelting van die afdelings


Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het Dinsdag (29 Oktober) op ’n raadsvergadering verskeie portefeuljeveranderings aan sy burgemeesterskomitee aangekondig, wat insluit die samesmelting van die afdelings vir afvalbestuur en paaie, asook maatskaplike ontwikkeling en openbare veiligheid, wat albei nou een afdeling word.

Theunis Bester, wat vir afvalbestuur verantwoordelik was, is die enigste komiteelid wat uitgeskop is. Hy is met Johan Liebenberg vervang.

Liebenberg is belas met beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme – ’n besluit wat deur die VF Plus in die raad verwelkom is.

André Fourie, ’n VF Plus-raadslid, het by navraag aan Paarl Post benadruk dat sy party verskeie uitdagings in die munisipaliteit se toerisme-afdeling identifiseer het en dat hy volle vertroue in Liebenberg het om hierdie portefeulje te behartig.

“Liebenberg het ’n sake-agtergrond. Hy is ’n uitstaande sakeman wat al baie groot projekte aangepak het. Ons glo dat hy die tekortkominge wat beplanning en toerisme aanbetref, sal identifiseer, en ’n beleggersvriendelike ekonomiese atmosfeer in Drakenstein sal skep.”

Fourie het gesê sy party glo egter steeds dat dit nie nodig is vir die burgemeesterskomitee om uit 11 lede te bestaan nie.

“Ons standpunt was nog altyd – en ons het dit onlangs weer aan die burgemeester geopper – dat hy slegs ses van sy beste raadslede moet kies en hulle dan vir die verskeie uitvoerende portefeuljes verantwoordelik is. Daar is geen rede vir die komitee om so groot te wees nie,” het Fourie benadruk.

Laurichia van Niekerk, wat voorheen vir beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme verantwoordelik was, is nou in beheer van elektrisiteit en water.

Openbare veiligheid word steeds deur Avron Appollis bestuur en val nou saam met maatskaplike ontwikkeling.

Afvalbestuur, wat ’n afdeling op sy eie was, smelt nou met paaie saam en word deur Anré Koegelenberg bestuur.

Die GOOD-party in Drakenstein het op sy beurt die komitee skommeling bestempel as ’n “goedkoop politieke foefie” om die DA beter te posisioneer in aanloop tot die plaaslike verkiesing van 2026.

“Die burgemeester het geen probleem om sy uitvoerende magte te gebruik om die DA te bevoordeel nie. Dit is nie net eties verkeerd nie, maar ook heeltemal skynheilig; dit laat gemeenskappe glo dat sy besluite in hul beste belang is, terwyl dit eintlik is om die DA oor die verkiesingslyn te stoot,” het Keagen Gertse van die GOOD-party by navraag gesê.

“Die burgemeester het ook aan die begin van sy termyn gesê dat hy ‘n Burgemeesterskomitee sal aanstel wat geskik is vir die doel, net om uiteindelik onbevoegdheid te herrangskik. Dit is nie net politieke oneerlikheid nie, maar dit sê definitief vir ons watter tipe leier Stephen Korabie is,” het Gertse bygevoeg.

Vroeër vanjaar was daar heelwat druk op Korabie om die burgemeesterskomitee van Conrad Poole, sy voorganger, met nuwe gesigte te vervang.

Poole is op 28 Februarie by wyse van ’n wantrouemosie as burgemeester verwyder.

Van die bewerings teen Poole was dat sy komiteelede glo maandeliks vir hul poste moes betaal het.

Nadat Korabie op 5 April verkies is, het Poole se burgemeesterskomitee waargeneem totdat Korabie eers drie maande later sy “nuwe” komitee aangekondig het.

Dié nuwe komitee het hoofsaaklik uit Poole se lot bestaan.

Korabie kon nie vandeesweek bereik word om sy motivering agter die skommeling en portefeuljeskuiwe te verduidelik nie.

Die aangepaste burgemeesterskomitee lyk soos volg:

  • Openbare veiligheid en maatskaplike ontwikkeling: Avron Appollis;
  • Elektrisiteit en water: Laurichia van Niekerk;
  • Paaie en afvalbestuur: Anré Koegelenberg;
  • Bestuur en implementeringsondersteuning: Johan Miller;
  • Beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme: Johan Liebenberg;
  • Finansies en koördinering: Adjunkburgemeester Gert Combrink;
  • Korporatiewe dienste: Derrick America;
  • Verstedeliking en menslike nedersettings: Elizabeth Baron;
  • Sport, ontspanning, kuns en kultuur: Lorenzo Arendse;
  • Parke, oorde en begraafplase: Lorraine Cyster; en
  • Kommunikasie en interregeringsverhoudinge: Rita Andreas.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.