Skokkende aantuigings teen Drakenstein-krematorium onthul; meer as een liggaam saam veras

Die Drakenstein-krematorium in Wattstraat, Paarl. Foto: Jana Scheepers


Die Drakenstein-krematorium is sedert 2011 in private besit nadat die huidige eienaar, Johann van der Merwe, dit gekoop het, waar dit sedert­dien glo onder ’n kleed van geheimhouding bestuur word.

Twee bronne met wie die koerant gesels het en wie anoniem wil bly om hul reputasie te beskerm, het verduidelik dat die krematorium aan beweerde onwettige aktiwiteite skuldig is, soos om liggaamlike weefsel, beendere en as op stortingsterreine in die Drakenstein-vallei te strooi weens ’n tekort aan kapasiteit om die liggame behoorlik te veras.

Johan Rousseau, die voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisonder­nemers (Fira), ’n onafhanklike begrafnisvereniging in Suid-Afrika, het dit bevestig.

Aantygings

Volgens die bronne was die Drakenstein-krematorium van 2011 tot 2016 gemagtig om slegs agt liggame per dagskof (08:00 tot omstreeks 18:00) te brand, waarna ’n lisensie ná 2016 goedgekeur is wat die getal opgestoot het na 16 liggame binne ’n 24-uur-tydperk.

Johann van der Merwe, die eienaar van die Drakenstein-krematorium sedert 2011. Foto: Johann van der Merwe/ WhatsApp

Dié getalle is nooit aan gehoor gegee nie met tussen 30 en 40 liggame wat uiteindelik per dag veras is.

Weens die hoeveelheid liggame wat ingeneem is, beteken dit ook dat die krematorium meer as een liggaam, dikwels saam met honde, veras het, waarna die oorledene se familie nie uitsluitlik hul geliefde se as sou ontvang nie.

Honde se karkasse is ook deur die krematorium ingeneem om veras te word, wat as ’n aanvullende inkomste vir die krematorium gedien het. Hierdie praktyk is wel wettig indien die krematorium ’n lisensie daarvoor het, wat die Drakenstein-krematorium wel gehad het tot 2023.

Wat immers onwettig is, is om karkasse saam met liggame te veras.

Hoe meer liggame verbrand is, hoe meer geld maak hy [Van der Merwe].

“Hoe meer liggame verbrand is, hoe meer geld maak hy [Van der Merwe],” het ’n bron verduidelik.

“Hoewel die krematorium intussen die verassing van honde gestaak het, was dit wel die norm om menslike liggame sowel as honde saam in een oond te verbrand,” het die bron gesê.

Op dié foto is meer as een liggaam (wat uitgedoof is via Photoshop) in die oond te sien. Foto: Verskaf

Die oond se deur word oopgemaak terwyl liggame verbrand word. Die rook en vlamme wat by die oond uitkom, is ’n aanduiding dat die oond te veel liggame op ’n slag verbrand. Foto: Verskaf

Hierdie vloeistof, sigbaar by een van die ingange van die Drakenstein-krematorium, is menslike afval in die vorm van vet en olies wat uit die oond loop. Foto: Verskaf

Stortingsterreine

Albei bronne het ook bevestig dat slegs een werkende oond in die Drakenstein-krematorium oortyd moes werk om die liggame te veras, en as gevolg hiervan word die liggame nie teen volle uitgebrand nie.

“Gewoonlik word liggame in die oonde verbrand totdat net beendere oorbly, waarna dit gemaal en aan die familie gegee word,” het een bron verduidelik.

“Maar, in hierdie geval is tot twee of drie liggame saam met honde veras, maar nie ten volle uitgebrand nie.”

Die oorskot wat bestaan uit beendere en menslike weefsel asook as is dan in sakke geplaas saam met die oorskot van diere, en op stortingsterreine gegooi.

“Die oorskot wat bestaan uit beendere en menslike weefsel asook as is dan in sakke geplaas saam met die oorskot van diere, en op stortingsterreine gegooi,” volgens die bron.

Hier, op die krematorium se terrein, lê talle sakke menslike as, asook menslike weefsel wat half veras is. Foto: Verskaf

Van dié stortingsterreine sluit in Wellington naby die R44 asook ’n veld langs die N1 tussen die Paarl- en die Klapmuts-afrit.

Volgens ’n bron het die Drakenstein-krematorium ook menslike afval, insluitend as, in die Hermon-begraafplaas begrawe.

’n E-pos tussen Van der Merwe en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se gesondheidsdienste en luggehaltebestuursafdeling op 13 oktober 2021 maak ook melding van dié kwessie oor Van der Merwe op 14 Oktober 2021. In die kommunikasie word Van der Merwe aangesê om nie meer as die toelaatbare aantal liggame te verbrand nie.

“Indien die Drakenstein-krematorium nie op die voorgeskrewe optimum vlak kan funksioneer om ’n volle verassing tydens ’n verassingstydperk te verseker nie, moet die [krematorium] terugskaal op die verassings wat vir die krematorium toegelaat word. Die [krematorium] moet verseker dat elke verassingsiklus voltooi is voordat met die volgende verassingsiklus begin word,” luidens die e-pos, wat die Paarl Post onder oë gehad het.

Hierdie e-pos bewys dus dat die KWDM sedert ten minste 2021 kennis dra van onreëlmatighede wat by die krematorium plaasvind.

Volgens die bron is hierdie en ander praktyke telkemale by die KWDM aangemeld, maar die versoeke vir ingryping het kwansuis op dowe ore geval.

Die bron beweer werkers is ook aangesê om ’n sloot agter die krematorium te grawe, asook een in Van der Merwe se agtertuin by sy huis in Courtrai, Paarl, waar bykomende oorskot begrawe is.

Johann van der Merwe, die eienaar van die Drakenstein-krematorium, se woning in Courtrai, Paarl, waar onder meer diere-afval en menslike as glo begrawe is. Foto: Jana Scheepers

“Toe dié slote vol is, moes hy [Van der Merwe] aan ’n ander plan dink om van die oorskot ontslae te raak, en dit is toe hy dit op vullisterreine gaan weggooi het.”

Doodskiste

Weens die hoeveelheid liggame wat die krematorium ingeneem het, was daar ook nie genoeg yskaste vir verkoelingsdoeleindes nie.

Dit het veroorsaak dat liggame tot meer as ’n maand buite gestaan het, wat glo ’n rotteplaag veroorsaak het.

Daar was ook ’n geval waar wurms aan ’n liggaam se kop geëet het toe die liggaam verbrand is.

“Daar was ook ’n geval waar wurms aan ’n liggaam se kop geëet het toe die liggaam verbrand is,” volgens een van die bronne.

Nog ’n bewering teen Van der Merwe is dat hy werkers aansê om doodskiste se deksels af te haal voordat die kiste saam met die liggame verbrand word.

Deksels van doodskiste word onwettig afgehaal voordat die res van die kis asook die liggaam verbrand word. Foto: Verskaf

Hier koop iemand van die doodskiste se deksels nadat die Drakenstein-krematorium dit onwettiglik afgehaal het. Foto: Verskaf

“Dit verseker dat die liggame vinniger brand,” volgens ’n bron.

Van dié deksels word dan óf op ’n ander wyse verbrand, óf die deksels word aan die publiek verkoop.

In die e-pos-kommunikasie tussen die KWDM en Van der Merwe word hy ook aangesê om dié beweerde onwettige praktyk te staak.

“Die Drakenstein-krematorium word hiermee beveel om die aftakeling of verwydering van dele van die doodskiste stop te sit,” luidens die e-pos.

Volgens ’n bron was hierdie, asook ander bevele van die KWDM, slegs “voorstelle” vir Van der Merwe.Hy het hom na bewering nie daaraan gesteur nie.

Van der Merwe het verduidelik dat hy die deksels afhaal om pasaangeërs te verwyder, maar die bronne verskil hiervan.

Dokters

Verdere bewyse beweer dat die Drakenstein-krematorium ook die mediese prosesse wat gevolg moet word voordat ’n verassing uitgevoer word, fnuik. Dit sluit in dat Van der Merwe twee dokters van die Paarl op die krematorium se stelsel geskep het wat die liggame, na bewering, valslik afteken sodat die verassing kan plaasvind.

Twee dokters van die Paarl is albei werklike dokters, maar hul name word onwettig gebruik om die liggame af te teken.

Dit word gedoen omdat Van der Merwe, na bewering, sowat R200 per liggaam spaar deur nie die dokters vir hul dienste hoef te betaal nie.

Die dokters word ook valslik op die stelsel geskep om die werklike aantal liggame wat per dag veras word, weg te steek.

Voordat ’n verassing plaasvind, moet ’n vorm A, B, C, en/of D en E deur dokters ingevul word.

“Vorm A is die aansoek vir verassing, terwyl vorm B die doodsertifikaat is wat deur ’n huisdokter uitgereik word. Vorm C en E wat die dood bevestig, word deur twee onafhanklike dokters, wat deur die krematorium aangestel word, uitgereik,” volgens Rousseau.

Vorm D word uitgereik deur a patoloog in die geval van ’n onnatuurlike dood.

Die Drakenstein-krematorium spaar dus geld deur nie onafhanklike dokters aan te stel vir vorm C en E nie, maar dit te laat lyk of die vorms wel deur dokters afgeteken is, beweer die bronne.

Verantwoordbaarheid

Volgens Rousseau het Fira ’n klagte by die Openbare Beskermer (OB) in Augustus 2024 aangemeld, wat tans ondersoek word.

Daarin word versoek dat die krematorium gesluit word hangende dié ondersoek. Volgens hom beplan Fira ook om ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aan te meld.

Die OB het nie op Paarl Post se navrae reageer nie.

Volgens Rousseau moet die eienaar van die krematorium ook deur onder andere die Wes-Kaapse regering strafregtelik vervolg word.

Van der Merwe ontken die bostaande bewerings teen hom.

“Dit is ons reg om die aantygings teenoor die [Drakenstein]-krematorium te ondersoek en onder oë te hê. Daarna kan ons dit bespreek voordat enige publikasie plaasvind. Ons neem kennis van [die koerant se] eensydige hantering van die aangeleentheid,” het Van der Merwe per e-pos gesê.

Die KWDM voer aan dat kiste wel in ’n yskas gestoor word, met ’n maksimum van net een kis in die “verbrandingskamer”. Volgens hulle is die munisipaliteit ook nie bewus dat meer as een liggaam saam veras word nie.

Volgens Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM is die krematorium tydens ’n vorige geleentheid versoek om nie kisdeksels te verwyder nie; slegs in die geval wanneer pasaangeër verwyder moet word.

In 2021 het die KWDM ook die krematorium ingelig dat die storting van oorskot op munisipale stortingsterreine weens “etiese redes” nie meer toegelaat word nie, waarna hulle sedertdien oorskot op die Vissershok-stortingsterrein strooi, voglens Otto.

“Die KWDM doen inspeksies onder beide Regulasie 363 sowel as die nasionale omgewingsbestuur se Wet op luggehalte.

“Indien vereistes gestipuleer onder hierdie wetgewings nie nagekom word nie, word nakomingvereistes deur middel van amptelike kennisgewings gestel.

“Dit moet onthou word dat gerugte nie genoeg is nie en dat daar konkrete bewyse gelewer moet word deur klaers of fluitjieblasers, of die KWDM-amptenaar moet tydens ’n inspeksie daardie bevindinge maak.”

  • Die Paarl Post sal in volgende week se uitgawe ’n opvolg skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.