‘n 27-jarige pa van Weltevrede in Wellington het in ‘n skokkende voorval skuld beken op 646 aanklagte na aanleiding van die besit en vervaardiging van kinderpornografie, verkragting, mensehandel en kindermishandeling – van sy eie kinders. Hy is Dinsdag (3 Junie) in die Paarl-streekhof 35 jaar tronkstraf opgelê wat hy aaneenlopend sal uitdien.
Die pa het sy drie minderjarige kinders – sy twee dogtertjies en ‘n seuntjie; almal onder die ouderdom van ses jaar – tussen Desember 2022 en Mei 2023 misbruik vir kinderpornografie, wat hy volgens die pleitooreenkoms via die Kik-app aan ‘n onbekende aantal kliënte vir ongeveer $5 tot $10 per foto verkoop het.
Dit het pornografiese video’s ingesluit.
Hy het sy kinders afgeneem terwyl hulle in erotiese posisies vir die kamera poseer het of seksuele dade op hulself sowel as met hom uitgeoefen het. Hy het hulle ook verkrag.
Die Verenigde State van Amerika (VSA) se Federale Buro vir Ondersoek (FBI) se taakmag vir kinderbeskerming en mensehandel het die beskuldigde op 11 Desember 2022 gedurende ‘n geheime optrede op die Kik-platform op ‘n openbare Kik-groep geïdentifiseer as iemand van belang in die besit en verspreiding van kinderpornografie, luidens die klagstaat.
Kik is ‘n gratis app wat op enige Apple- of Android-toestel afgelaai kan word en gee gebruikers toegang tot verskeie private of openbare kletsgroepe.
Kik se grootste verkoopspunt is dat al die gebruikers daarop anoniem kan bly met hul gebruikernaam as die enigste identifiseerder.
Die FBI het hierdie inligting aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig, wat toe die beskuldigde op 30 Mei 2023 in Gqeberha in die middestad in hegtenis geneem het.
Die beskuldigde en sy vrou het later in 2023 hierheen verhuis, het uit die klagstaat geblyk.
In sy pleitooreenkoms het die beskuldigde erken dat hy die dade weens ‘n gebrek aan inkomste gepleeg het.
Volgens die klagstaat het hy nie werk gehad nie, hoewel hy in 2013 aan ‘n gesiene hoërskool in die Paarl gematrikuleer het en hy die dade gepleeg het terwyl sy vrou by die werk was.
Die egpaar het in November 2024 geskei terwyl die beskuldigde verhoorafwagtend was.
Die klagstaat het ook gestipuleer dat die drie kinders in ‘n plek van veiligheid moet bly omdat daar ‘n moontlikheid is dat die ma (27) ook nog later vervolg kan word.
Die aanklagtes, volgens die klagstaat, waarvan die pa beskuldig is sluit in:
- Aanklagte een: Mensehandel met die doel van uitbuiting (25 jaar tronkstraf);
- Naaklagte twee: Mensehandel met die doel van uitbuiting (25 jaar tronkstraf);
- Aanklagte vier: Verkragting (25 jaar tronkstraf);
- Aanklagte vyf: Verkragting (25 jaar tronkstraf);
- Aanklagte ses: Verkragting (25 jaar tronkstraf);
- Aanklagte sewe: Verkragting (25 jaar tronkstraf);
- Aanklagte agt: Die gebruik van ‘n kind vir kinderpornografie (10 jaar tronkstraf);
- Aanklagte negeg: Die gebruik van ‘n kind vir kinderpornografie (10 jaar tronkstraf);
- Aanklagte 10: Onwettige en opsetlike verspreiding van kinderpornografie (10 jaar tronkstraf);
- Aanklagte 11 tot 640: Die besit van kinderpornografie (vyf jaar tronkstraf vir elke aanklagte);
- Aanklagte 641: Onwettige en opsetlike verspreiding van kinderpornografie (vyf jaar tronkstraf);
- Aanklagte 642: Onwettige en opsetlike verspreiding van kinderpornografie (vyf jaar tronkstraf);
- Aanklagte 643: Onwettige en opsetlike verspreiding van kinderpornografie (10 jaar tronkstraf);
- Aanklagte 644: Kindermishandeling (vyf jaar tronkstraf);
- Aanklagte 645: Kindermishandeling (vyf jaar tronkstraf); en
- Aanklagte 646: Kindermishandeling (vyf jaart tronkstraf).
Die beskuldigde sal eers in aanmerking kom vir parool nadat hy twee derdes van sy vonnis uitgedien het.
- Volgens die Suid-Afrikaanse perskode kan die naam van die beskuldigde asook die ma nie genoem word nie, om sodoende die identitiet van die drie minderjariges te beskerm.