Die Paarl-rugbykode het ‘n voorval die afgelope naweek waartydens ‘n skeidsregter in die wedstryd tussen die Albions- en Manenberg Rangers- rugbyklubs op die Dal Josafat-sportterrein deur ‘n speler van Manenberg aangerand is, ten sterkte veroordeel.
Die betrokke skeidsregter het ‘n aanrandingsaak aangemeld, het Eugene Andries, die voorsitter van die Paarl-rugbykode, by navraag bevestig.
Volgens Andries is die Manenberg- speler deur die Westelike Provinsie (WP)-rugbyunie geskors hangende die uitkoms van sy tugverhoor, wat vandag (24 Julie) plaasvind.
In ‘n regstreekse video-opname van die wedstryd verlede Saterdag (19 Julie) kan gesien word hoe ‘n speler van Albions ‘n drie druk en ‘n Rangers-speler kort daarna op hom neerval.
Die drie is aan Albions toegeken terwyl die Rangers-speler terselfdetyd ‘n geelkaart gekry het. Dit is toe dat hy die skeidsregter aangeval het.
In die video kan gesien word hoe hy die skeidsregter minstens twee keer in die gesig slaan en op hom trap.
Albions-spelers het tot die skeidsregter se redding gekom.
Die wedstryd is hierna afgeblaas.
‘n Ooggetuie het aan Paarl Post vertel dat die Rangers-speler, glo ‘n senter, reeds vroeër in die wedstryd met die skeidsregter woorde gewissel het.
Hy was glo al moeilik toe die skeidsregter die wedstryd gestaak het om toeskouers van die veld af te verwyder.
Hy wou hê die wedstryd moes voortgaan met die toe- skouers op die veld, vertel die ooggetuie.
Andries het na afloop van die wedstryd gesê sulke gedrag is geensins welkom in sport nie.
“Hierdie is ‘n uitsonderlike voorval wat ons ten sterkste veroordeel. In al my jare se betrokkenheid by rugby in die Paarl het ek persoonlik nog nooit so ‘n soort aanval op ‘n skeidsregter beleef nie. Ons is baie ongelukkig met dit wat afgespeel het.
“Wat ons moet onthou, is dat skeidsregters hul tyd opoffer om gemeenskapsrugby moontlik te maak. Sonder hulle kan ons nie speel nie.”
Hy het bevestig dat tugstappe reeds teen die speler begin het.
“Hy is deur die unie geskors. Sy verhoor is Donderdagaand [vanaand].
Die Paarl-rugbykode is geensins by hierdie soort verhore betrokke nie. Dit is ‘n aangeleentheid tussen die betrokke klubs en die unie.
“Ons is intussen ook ingelig dat die skeidsregter ‘n misdaadklagte aangemeld het,” het Andries bygevoeg.
Volgens hom het die rugbykode streng veiligheidsmaatreëls om almal op die sportveld te beskerm.
Hy sê veiligheidsplanne sal nou her- evalueer word om soortgelyke voorvalle asook toeskouers se toegang tot die speelveld te voorkom.
Die skeidsregter se identiteit is aan die koerant bekend, maar word vir sy privaatheid en veiligheid weerhou.
Die koerant kon teen druktyd nie kommentaar by die polisie kry oor die strafregtelike saak wat glo aangemeld is nie.


