In ’n dramatiese wending het ’n landdros in Khayelitsha verlede week die saak van vyf vermeende transitorowers van die hofrol geskrap. Die mans, wat onder meer verbind word met ’n transitoroof in Denneburg drie weke gelede, is Maandag ná ’n klopjag deur die Valke in hegtenis geneem.
’n Transitovoertuig van die Fidelity-sekerheidsgroep is op 29 Julie in Denneburg deur ses mans aangeval. Die rowers het met nagenoeg R400 000 gevlug.
Die landdros, Brendale Abrahams, het tydens die eerste hofverskyning van drie van die vyf beskuldigdes – Tebogo Maluke, Cassiem Feni en Avuyile Mjongwana – die staat se verweer verwerp dat die mans eers ná 18:00 in hegtenis geneem is. Hy het benadruk dat die hof die wet moet volg en het die saak van die hofrol geskrap.
Die wending het gevolg nadat Josua Greeff, die regsverteenwoordiger van Cassiem Feni, aangevoer het dat sy kliënt onregmatig voor die hof gebring is. Hy het beweer dat Feni omstreeks 15:00 in hegtenis geneem is en nie binne die vereiste 48 uur in die hof verskyn het nie, soos die wet vereis.
Die ander twee mans is steeds in plaaslike hospitale onder streng polisiebewaking. Een van hulle is in ’n kritieke toestand nadat hy in die maag geskiet is, terwyl die ander een rekonstruktiewe chirurgie benodig nadat hy in die been gewond is.
Agt ander vermeende transitorowers is Maandag tydens die polisie-optrede in Bekelentloko-straat, Town Two, Khayelitsha, doodgeskiet. Die staatsaanklaer, adv. Steven Rubin, het aangevoer dat die vyf mans eers ná 18:00 in hegtenis geneem is, maar die landdros het nie die argument aanvaar nie en gesê die hof moet ook die belange van beskuldigdes beskerm.
Die vyf mans het op voorlopige aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van ammunisie, die onwettige besit van vuurwapens en die besit van springstof verskyn. Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiehoof, het buite die hof gesê die ondersoek teen die mans is nog nie afgehandel nie. Hulle word ook ondersoek vir hul moontlike betrokkenheid by ’n ander transitorooftog vandeesmaand in Kuilsrivier.
In een van die voorvalle op 29 Julie is ’n transitovoertuig van die Fidelity-sekerheidsgroep in die Denneburg-gebied in die Paarl deur ses mans aangeval. Die rowers het met nagenoeg R400 000 op die vlug geslaan.
Die vyf mans is Maandagaand in hegtenis geneem toe ’n geïntegreerde taakspan, bestaande uit lede van die Valke in die Wes-Kaap en Gauteng, misdaadintelligensie en ondersoekers van die Fidelity-sekerheidsgroep, op ’n huis in Bekelentloko-straat toegeslaan het. Die polisie het op die huis toegeslaan nadat die Valke in Gauteng inligting ontvang het dat ’n groep mans ’n transitorooftog beplan.
Volgens bronne is die beskuldigdes en die oorledenes van verskillende provinsies, insluitend die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap. Maluke is glo van Soweto, Gauteng.
Die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het haar skok en ontsteltenis uitgespreek nadat die saak teen vyf beweerde deelnemers aan die rooftog Maandag in Khayelitsha van die hofrol geskrap is.
Die saak is van die rol geskrap omdat die beskuldigdes nie binne 48 uur aangekla is nie, soos die wet vereis. “Ek is geskok en verslae oor hierdie slordige werk, wat heeltemal onaanvaarbaar is. Die verdagtes moet so gou moontlik weer in hegtenis geneem word. Die saak kan ??nie daar gelaat word nie,” het Marais gesê.