Daar is ’n paar dinge in hierdie lewe waarmee ek al vrede gemaak het. Dis daai dinge waarmee ek blootweg net nie goed is nie. Twee hiervan is sport en motors.
Ek het al van kindsbeen af tot die besef gekom dat ek geen aspirasies koester om eendag ’n wêreldberoemde paalspringer te word nie. Kyk nou maar wat het vanjaar by die Olimpiese Spele gebeur! Nee wat, ek laat daai een met ’n geruste hart aan iemand anders oor.
Is ek ’n bok vir sports? Maar natuurlik hou ek daarvan om saam met goeie vriende die rugby of krieket op die kassie te volg. En glo my, die satisfaksie as ons land wen, is vir my net so lekker soos vir jou. Moet my egter nie vra om ’n skeidsregter vir ’n rugby- of krieketspan te wees nie. Nee, o gonna . . . daai sal nou vir jou ’n fiasko afgee. My respek en waardering aan die mense wat dit wel met passie en kundigheid kan doen.
Motors is die ander terrein waarop ek my gewis nie ’n kenner sal noem nie. My motor is vir my ’n noodsaaklike gerief om van die een plek na die volgende te kom. Dis dit. Moenie vir my vra om jou enjin vir jou te kom uitmekaar haal nie. Jy sal ná my handewerk aan jou motor na die naaste tweedehandsemotorhandelaar moet gaan om dit te verkoop. Dis nou as daar iets van jou motor oorbly.
Ek kan my verkyk aan mense wat tegnies aangelê is en wat elke draadjie en skroefie van ’n motor ken. Ek kan met sekerheid noem dat ek my motor se olievlakke kan nagaan en ook seker maak dat die watervlak reg is. Met matige inspanning behoort ek ook ’n pap wiel met die spaarwiel te kan vervang. Die res . . . nee wat, dit los ek maar vir die kundiges.
Ek is egter in ’n gelukkige posisie waar ek in die meeste gevalle mense ken wat mense ken by wie ek kan gaan aanklop vir raad. Hulle is die mense wat met groot vrymoedigheid van hulp sal wees as ek nie weet waar daardie vreemde gedruis of geluid in my motor vandaan kom nie. Hulle sal ook weet waar en by wie ek die beste prys vir die regmaak van die fout kan kry.
Ons nuwe minister van sport is ’n groot aanhanger van “spinning”. Ek was nog nie eens by ’n geleentheid waar ’n mens die energieke gedoente in aksie kon sien nie. So ’n paar weke gelede word ek ietwat vasgeparkeer deur my swaer David se Ford 3-liter. Wat ’n storie.
Op daai oomblik wens ek dat ek die vernuf van ’n “spinner” agter die stuurwiel gehad het.
My swaer het my met baie geduld probeer touwys maak hoe ek daardie swaai van die stuurwiel na links of regs moes doen, maar ek moes maar druipstert die aftog blaas en hom vra om die nodige te doen. Het ek myself agterna sit en pynig omdat ek nie kon regkry wat hy in ’n oogwink kon doen nie? Nee, glad nie.
Ons het agterna lekker gelag oor die hele storie. Daar is nog ’n hele paar ander goed waarmee ek glad nie goed is nie, en dis oukei. Wat ek wel weet, is dat daar weer ander terreine is waar my ster die meeste van die tyd helder skyn – daardie dinge waaroor ek passievol is en waarin ek kundig genoeg is om ’n noemenswaardige bydrae te kan lewer.
Dis by die besef en herbevestiging hiervan dat ek my kan losmaak van enige onredelike druk om soos iemand anders te wil wees.
Dit laat my onwillekeurig dink aan die wyse waarop ons kinders soms gedruk word in loopbaanrigtings waarin hulle glad nie belangstel nie. Die kind moet ’n sekere beroep beoefen, want almal in die familie het daardie beroepsveld gekies.
Selfontdekking is na my beskeie mening die goue wagwoord wat die knoop sal deurhak. Jy hoef nie alles vir almal te wees nie. Jy mag maar vrede maak met die dinge waarin jy minder goed is. Dit mag ons egter nooit ontmoedig om iets nuuts uit te toets nie. Om iets nuuts te waag of aan te pak, mag ons by tye aangenaam verras.
Om saam met ’n groep ouens op ’n bouperseel te werk, is dalk nie vir my die lekkerste werk op aarde nie, maar dit beteken nie dat ek nie die sement kan meng en van die pleisterwerk kan doen nie. In my studentejare het ek ’n kort rukkie in ’n bekende gesinsrestaurant gaan werk vir ’n ekstra inkomste.
Ek het vergeet om die servet om die duiwelsvurk met sampioene te draai.
My tyd by die restaurant was van korte duur.
As syfers nie jou ding is nie, dan los jy dit vir die boekhouer. As jou bredies en sop die gesin eerder na die pizzawinkel laat verlang, beter jy ’n kookles of drie gaan neem.
En as jy beter vaar met motors regmaak as om voor ’n klas vol studente te staan, dan beter jy baie vinnig van beroep verander.
Skoenmaker, hou jou by jou lees!
,