Twee mans van Paarl-Oos het Maandagmiddag (18 September) ’n skietvoorval oorleef nadat iemand skielik in Groenheuwel op hulle losgebrand het.

Volgens kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het die verdagte die twee mans gekonfronteer en beweer hulle het iemand beroof.

Daarna het hy op die twee mans begin skiet.

Die twee het daarin geslaag om weg te hardloop, maar albei is in die maag gewond en een se vinger is raakgeskiet.

“Die een slagoffer is gekry waar hy in ’n erf gelê het en is hospitaal toe geneem. Die verdagte het die ander slagoffer nog gejaag tot verby die verkeersdepartement, want daar het ook ’n paar skote afgegaan,” sê Sauls.

. In ’n afsonderlike voorval is ’n man Dinsdagnag omstreeks 02:00 naby ’n skool in Groenheuwel doodgeskiet. Die omstandighede oor die voorval word nog ondersoek.

Nog iemand is in dieselfde voorval gewond.

“Die hospitaal het die polisie ingelig dat nog ’n slagoffer in die voorval gewond is en daar behandel word. Hy is in die skouer geskiet,” het Sauls gesê.

. Enigiemand met waardevolle inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes in die drie pogings tot moord en een moordsaak word gevra om die Paarl-Oos-polisie by 021 877 5900 te te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.