Een van Ouma se sê-goed lui: ’n mens se tong is beenloos, maar dit kan gate inslaan . . . Destyds was dit vir my onverstaanbaar, maar metter­tyd het die woorde begin sin maak. ’n Ander gesegde lui dat die tong die wêreld aan die brand kan steek. Die digter Mathews Phosa se gedig “Talle tonge” vang dit goed vas.

“Talle tonge” fokus op die verskeie gedaantes wat ’n mens se tong in gegewe oomblikke kan aanneem. Daar’s ’n heuning tong (wat deur middel van komplimente met verskuilde agendas doeltreffend gebruik word), ’n bitter tong (wat behoort aan ’n negatiewe mens wat kwaad saai en vloeke uitspreek), ’n stomp tong (wat swyg oor die waarheid), ’n suur tong (wat brand soos asyn en mense laat krimp en skend), ’n skerp tong (wat klap soos ’n sweep en diep kepe laat), maar daar is darem ook ’n tong wat kan salf . . .

Ons klets soos lappe wat skeur en almal maak hulle hieraan skuldig. Ons dink nie voordat ons praat nie en maak nie seker of ons feite of ’n situasie agtermekaar is nie. Ons dra stories oor sonder dat ons genoegsame inligting oor die storie of die betrokke mens het, maak ons eie goed met versinsels wat binne die afstand van ons oordromme beland en hardloop die wye vlakte in om die inligting te versprei.

So leen ons ook ons ore uit en luister na bespiegeling wat opgedis word en word ons ore vuilgoed­dromme. Ons steek die lont aan die brand wat soos ’n veldbrand versprei – maak nie saak wie in die proses deur die vlamme vernietig word nie. En wanneer die vuur se hitte na jou toe terugdraai, probeer jy soms onskuldig pleit en maak asof jy kwansuis níks van die betrokke skinderstorie weet nie. Ons las by, haal uit wat ons dink nie belangrik is nie en maak heeltyd feitefoute.

Daar is waarskynlik drie feite oor mense wat skinder: Eerstens moet jy min glo wat mense van ander sê. Tweedens moet jy min glo van wat iemand wat skinder oor hom- of haarself sê, en derdens moet jy besef diegene wat ander mense met jou bespreek, JOU ook met daardie mense bespreek!

Die feit is– ons almal skinder. Ons het almal al van ander mense sleg gepraat. Hoe dikwels het onsself nie onder ander se tonge deurgeloop nie? Talle mense ly vandag nog as gevolg van neerhalende woorde wat hulle in die verlede toegesnou is . . .

Afbrekende woorde kan jou geestelik knou en jou selfbeeld skade berokken, veral as jy dit ter harte neem en sodoende die slagoffer van die verspreider word.

’n Ander gesegde lui: ’n Bek is ’n ding wat afdraand praat, want as die woorde eers uit is, kan jy hulle nie weer terugsit nie! Die filosoof Herodotus het gesê: “Die een van wie geskinder word, word dubbel gepynig – eers deur die een wat van hom skinder en dan deur die een wat die geskinder glo.” Ons skinder oor mense se leed en verheug ons daarin as iemand van wie ons nie hou nie, in die een of ander moeilikheid is.

Ons sê: “elke hond kry sy dag” as ons “vyand” val en deur ons tonge verder val as die aarde en vergeet dat daar ook op ons afgronde wag deur ons tonge wat ons nie kan beheer nie. As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, swyg. Die rede waarom mense skinder, is omdat hulle onseker oor hulself voel en omdat hulle onvolwasse is en nog aandag en goedkeuring soek van ander. Hulle het dus niks anders om te doen nie.

Wat leer ons hieruit? Plaas ’n wag voor jou mond. Dink voordat jy praat. Bemoedig en inspireer. Sommige opvoeders of werkgewers is geneig om hulle hieraan skuldig te maak deur sarkasme en die selfbeeld van leerders of kollegas te skend.

Gebruik jou tong om te salf. Mense gaan jou vermy weens jou bitter tong wat gedurig ander se geraamtes uit hul kaste wil ruk terwyl jy self met ’n begraafplaas vol geraamtes sit.

Vermy mense wat gedurig negatiewe aanmerkings maak. Lewer positiewe kommentaar waar nodig, want stilbly kan ook beteken dat jy saamstem met ’n absurde idee wat klink na waarheid. Moenie dat mense se onkundige menings in jou teen­woordigheid in die lug hang asof dit die naakte waarheid is nie, al beteken dit dat jy hul vriendskap verloor.

Die tong is maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. Die tong is ook ’n vuur – die deel van die liggaam wat die hele mens besmet en die wêreld vol ongeregtigheid verder kan bestook. Alles wat loop, vlieg, kruip of swem; elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong regtig tem nie.

Verhoed dat jou tong in 2024 gate slaan waar dit nie moet nie . . .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article