Só kan ’n baba se lewe gered word – druppel vir druppel.Foto: Milk Matters


Mensemelkbankweek vind elke jaar in Maart plaas en bevorder die vestiging, ondersteuning en deurlopende bedryf van mensemelkbanke by hospitale met neonatale eenhede.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand doen ’n beroep op alle gesonde lakterende vroue om te oorweeg om melkskenkers te word om moontlik die lewens van baie babas oor die hele provinsie te red.

Wat is ’n mensemelkbank?

’n Mensemelkbank samel borsmelk in van moeders wat meer melk produseer as wat hul babas nodig het. Hulle stoor, pasteuriseer en toets dit dan, en gee dit uiteindelik aan vroeggebore en brose babas in nood, hetsy in hospitale of plekke van veiligheid.

Hoekom is mensemelkbanke belangrik?

Volgens die Suid-Afrikaanse Borsmelkreservaat word 8 uit 100 babas in Suid-Afrika vroeg gebore en sterf 11 000 vroeggebore babas jaarliks aan voorkombare infeksies en komplikasies. Melk wat deur gesonde borsvoedende moeders geskenk word, sal vroeggebore of siek babas in nood help.

Jenny Wright van Milk Matters sê skenkermelk is nie net ’n reddingsboei vir die ontvangerbabas nie, maar dit is ook ’n brug na borsvoeding, met die gesondheidsvoordele wat dit vir die ma sowel as haar baba inhou.

Ondersteun deur die Wêreld­gesondheidsorganisasie en UNICEF, is borsmelk van veilige en bekostigbare melkbankfasiliteite die beste en voorkeuralternatief waar ’n moeder se eie melk nie beskikbaar is nie.

Wat is die voordele van geskenkte uitgedrukte borsmelk vir vroeggebore babas?

Om die lewens van die kwesbaarste babas te red, is borsmelk die perfekte eerste voeding. Babas word met onvolwasse immuunstelsels gebore, en borsmelk wat ryk is aan teenliggaampies en immuunfaktore help om die ontwikkeling van hul immuunstelsels te versnel.

Dr. Mary Fischer, algemene praktisyn by die neonatale eenheid by Paarl Hospitaal, verduidelik dat die voeding van formulemelk aan vroeggebore babas ernstige en dikwels dodelike newe-effekte kan hê, in teenstelling met die moeder se eie melk of geskenkte uitgedrukte borsmelk.

“Ma’s van vroeggebore babas sukkel dikwels om melkproduksie gevestig te kry. Geskenkte borsmelk word dan aan vroeggebore babas toegedien om hulle gedurende die eerste dae van hul lewe te voed. Sodra die moeder se melkvoorraad gevestig is, kan geskenkte borsmelk aan ander babas gegee word wat dit nodig het.”

Dr. Fischer sê vroeggebore babas se ingewande is gewoonlik nog nie goed ontwikkel nie en formulemelk kan infeksies van die ingewande veroorsaak. Aangesien die babas ook nie ’n lewensvatbare immuunstelsel gevestig het nie, kan hierdie infeksies dodelik wees vir vroeggebore babas.

“Borsmelk bevat nie net bestanddele wat maklik verteerbaar is vir babas nie, maar dit bevat ook lewensreddende teenliggaampies en immuunfaktore wat die liggaam kan help om infeksies en siektes te bekamp.”Wie kan uitgedrukte borsmelk skenk?

Gesonde, lakterende moeders wat:

. meer borsmelk het as wat haar eie baba benodig;

. nie ’n bloedoortapping in die afgelope drie maande ontvang het nie;

. nie rook of onwettige of ontspanningsdwelms gebruik nie;

. nie gereeld alkohol gebruik nie; en

. geen medikasie, aanvullings of tradisionele medisyne neem wat borsmelkskenkings negatief kan beïnvloed nie.

Die meeste lakterende moeders sal ook uit eie ervaring bevestig dat gesonde leefstylgewoontes, insluitend ’n gebalanseerde dieet en die inname van genoeg vloeistof, tot voldoende melkproduksie bydra. Borsvoeding of gereelde uitdruk bly die belangrikste maniere om melkproduksie te stimuleer en in stand te hou. Behoorlike toegang tot ’n bergingsfasiliteit vir borsmelk voordat dit geskenk word, is ook nog ’n belangrike faktor vir skenkers om te oorweeg, aangesien dit verseker dat die skenking veilig is vir verbruik.

Wie moet nie uitgedrukte borsmelk skenk nie?

Onder andere vroue wat:

. rook of tabak- of nikotienprodukte gebruik;

. onwettige of ontspanningsdwelms, insluitend dagga, gebruik;

. medikasie, aanvullings, kruie of tradisionele medisyne neem, tensy dit spesifiek deur die melkbank goedgekeur is;

. die risiko loop om ’n seksueel oordraagbare siekte op te doen.

Hoe kan melk geskenk word?

Potensiële skenkers kan ’n staatshospitaal met operasionele melkbanke direk kontak. Hulle kan ook Milk Matters kontak om hulle in te lig oor hul bereidwilligheid om te skenk. Skenkers sal dan gekeur word deur ’n kort vraelys te voltooi om vas te stel of hulle aan die leefstylverwante vereistes (hierbo gelys) voldoen en sal dan ’n bloedmonster moet verskaf.

Die bloedmonster sal vir MIV, hepatitis B en sifilis getoets word. Bloedtoetse word sonder enige koste vir die skenker gedoen.

Sodra die bloedtoetse bevestig dat daardie skenker se toetse negatief is vir hierdie drie siektes, sal die skenker by die fasiliteit se skenkerregister gevoeg word. Skenkers kan dan hul skenking op hul eie gerief by die fasiliteit aflewer. Die melk sal dan gepasteuriseer word en monsters sal vir mikrobiese toetsing versamel word. Gepasteuriseerde en getoetste melk wat as veilig vir verbruik beskou word, sal dan aan kwesbare vroeggebore babas in die hospitale se neonatale eenhede verskaf word.

?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article