Groot dele van die Wes-Kaap, waaronder die Drakenstein, het deurgeloop nadat vlak agt-weerwaarskuwings ook grootskaalse reën, hael, donderstorms en sneeu meegebring het.
Skade aan huise, sakepersele asook ander infrastruktuur in die Drakenstein-munisipaliteit is aangemeld, met sommige inwoners van Newton in Wellington wat ontruim moes word weens ’n gevaar vir vloedwater wat huise kon meesleur.
Inspeksies by die Bo-Dal-plaasdam het gewys die damwal sou moontlik kon breek. Dus moes sowat 900 inwoners ontruim word totdat die gebied weer veilig verklaar is.
Volgens ’n persverklaring van die Drakenstein-munisipaliteit, wat Saterdag (13 Julie) uitgereik is, het die vallei geen noemenswaardige skade aan infrastruktuur, insluitend paaie en elektrisiteitstoevoer, aangemeld nie.
Die MediClinic Paarl se ongevalle-afdeling het oorstroom, waarna die hospitaal dié afdeling na ’n ander gedeelte in die hospitaal verskuif het.
Die hospitaal kon net sekere dienste aanbied, met nie-lewensgevaarlike gevalle wat na ander hospitale verwys is.
Dié situasie duur voort tot verdere kennisgewing.
“Tot dusver het die munisipaliteit meer as 10 000 sandsakke in gebiede wat oorstroom is, versprei en sowat 120 m se plastiekplate uitgereik om inwoners van informele wonings met lekkende dakke by te staan,” lui die persverklaring.
Die munisipaliteit het ook tydelike skuilings opgerig wat 254 haweloses gehuisves het.
“Alle groot vervoerroetes in die Drakenstein is oop vir verkeer, terwyl die munisipaliteit se paaie-spanne aandag skenk aan slaggate wat weens die swaar reënbuie op hoofroetes gevorm het.”
“Die stormwaterspanne gee steeds aandag aan verstopte kanale en stormwaterdreine – veral in informele nedersettings,” lui die verklaring.
Afgesonderde kragonderbrekings is die afgelope week aangemeld, maar geen grootskaalse skade nie.
Begraafplase was egter tot Maandag (15 Julie) gesluit, met sekere begraafplase wat steeds gesluit is.
“Die Klein Parys-begraafplaas sal gesluit bly tot verdere kennisgewing, aangesien die grondwatervlakke steeds te hoog is om veilige begrafnisse te verseker,” luidens ’n Facebook-plasing van die munisipaliteit.
“Om die aantal oop grafte te minimaliseer voordat grondwatervlakke styg, sal nuwe grafte op die dag van beplande begrafnisse voorberei word.”
Volgens die munisipaliteit vind begrafnisse hierdie naweek vanaf 11:00 plaas, en sal geen grafte onder ’n sekere diepte gegrawe word nie, waarna die situasie op 22 Julie heroorweeg sal word.
Munisipale sportvelde was ook van 10 tot 15 Julie gesluit weens versuipte grond. Die munisipaliteit het egter dié tydperk tot gister (17 Julie) verleng.
Die Orleanspark-oord in die Paarl is ook tydelik gesluit.
Volgens Agri Wes-Kaap-lede het die landboubedryf nie groot skade aangemeld nie.
Lede het wel genoem dat die hoeveelheid reën bekommernis onder graanprodusente saai.
“Die produsente het nog nie regtig groot skade van hul lande aangemeld nie, behalwe dat dit baie nat en koud is.
“Graanprodusente is [wel] ’n bietjie bekommerd oor die groei [van hul graan].”
“Die grootste uitdaging is infrastruktuur omdat die paaie en sekere toegangsroetes [tans] onbereikbaar is,” sê die lede.
In die Breedevallei het die hoeveelheid reën veroorsaak dat verskeie paaie verspoel het.
“Redelik baie besproeiingsinfrastruktuur wat aanliggend is aan veral die Breederivier is beskadig, met pompe wat weggespoel is.”
Geen ernstige skade is verlede week in die Swartland-distrik aangemeld nie.