Tamson Visagie (links), haar ma, Christalene Newing, en Abulela Ndaliso met die sertifikate wat hulle by Yum.Me ontvang het.

Chantélle Hartebeest


Dié twee vriende neem deel aan SABC3 se jeug-kookprogram, Yum.Me. 

Volgens Tamson se ma, Christalene Newing, het sy die inskrywings vir die program verlede jaar terloops op Facebook gesien. 

“Ons het die aansoek ingevul en toe kies ek hulle twee se name aangesien hulle vriende is en hulle baie betrokke by die gemeenskap goed [aktiwiteite]. Ek het Abulela se ma gevra of sy mag deelneem en sy het toestemming gegee. Ná ’n maand het hulle [Yum.Me] geantwoord en ons deur die proses gehelp oor wat hulle soek,” vertel Christalene.

Sy het besluit om die twee maats in te skryf sodat hulle kan sien daar is positiewe dinge wat in die wêreld gebeur ongeag die omgewing waaruit hulle kom.

“Dit wil nie sê omstandighede bepaal jou toekoms nie en ons moet begin dat ons kinders ook aan die goed deelneem. Dit kos nie so baie nie; dis net ’n bietjie moeite,” sê Christalene.

Volgens Tamson was sy baie bly om aan die program deel te neem en sal sy dit enige tyd weer doen. “Ek was senuweeagtig toe ek die eerste keer gegaan het, maar dit was baie lekker en ek het dit geniet.

Ek het vriende met die ander span gemaak en dit was baie lekker,” sê sy.

Abulela, aan die ander kant, is baie skaam en teruggetrokke, maar erken ook sy geniet dit om te bak.

“Ek het gelukkig gevoel. Ons het almal vriende geword. Hulle [ander deelnemers] het eers vir haar [Tamson] gevra wat is haar naam en toe vra hulle vir my.

Dit was lekker en ek sal dit weer doen,” sê Abulela terwyl sy haar glimlag agter haar hande probeer wegsteek.Vir Christalene was dit gewis ’n trotse oomblik toe die twee maatjies kon deelneem. 

“Abulela is camera shy, maar sy het haar beste gedoen en sy was baie aktief – Tamson ook.

Hulle het gedink hulle gaan chicken burgers maak waarmee hulle geoefen het, maar toe hulle by die show kom, moes hulle skielik red velvet cupcakes maak,” vertel Christalene. 

“Hulle het vir die eerste keer baie goed uitgekom, en ek kon sien hulle het dit geniet,” verduidelik Christalene. 

Op ’n vraag of hulle twee weer aan die program sal wil deelneem, het Abulela en Tamson sonder huiwering ja geantwoord. Yum.Me sal na verwagting in Maart op SABC3 verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.