Die Suid-Afrikaanse wyn-ikoon Simonsvlei, vroeër jare ’n toonvenster en een van die pasaangeërs van die Kaapse Wynlande, het nuwe eienaars wat ten doel het om die wynkelder weer ’n voorste leefstyl-bestemming op die Kaapse Wynroete te maak, maar spesifiek om stukrag te gee aan sy stigtingsmotief in 1945 – om gehaltewyn teen bekostigbare pryse te bied wat die verbruiker aan die geur van die beste Kaapse wynlande bekend stel.
Die nuwe eienaars, ’n Europese konsortium met sterk Suid-Afrikaanse bande, gaan reeds in die eerste fase van Simonsvlei se herrysing sowat R25 miljoen bestee aan opgraderings en vernuwings. Verdere fases van uitbreiding en verbeterings sal daarna volg.
Deel van die eerste fase is om groot dele van die fasiliteit te vernuwe, met ’n nuwe proelokaal, restaurant, ontspanningsarea, delikatesse (wat eg Bolandse tuisgebak en varsprodukte van die omgewing sal verkoop) asook ’n leefstyl-gebied rondom die bestaande dam, waar verskeie aanbiedings soos boetiek-bier, -gin, -vodka, -rum en -brandewyn aangebied sal word. Ook die kenmerkende reuse-wynbottel, reeds dekades lank ’n baken in die gebied, word vernuwe en sal prominent sigbaar wees. Die doelwit met die leefstyl-aanbieding is nie net om vir meer smaak-voorkeure voorsiening te maak nie, maar ook om wenresepte van die verlede te laat herleef, soos die uitsonderlike buffet-ete wat jare gelede alom bekend gestaan het as een van die voortreflikste in die Kaap.
Jacques Fourie, besturende direkteur van Simonsvlei, sê die opdrag wat hy en sy span van die nuwe eienaars ontvang het, is dat Simonsvlei moet herrys deur ook stukrag te gee aan die Groter-Kaapstad-omgewing en spesifiek die Wynland se wêreldbekende status as uitsonderlike leefstyl-bestemming.
Volgens Fourie is dit algemeen bekend dat Simonsvlei sedert 2019 in sakeredding was. “Die nuwe eienaars was reeds lank voor die sakeredding bewus van Simonsvlei se sterk handelsmerk wat sedert 1945 bestaan, asook die strategiese ligging van die kelder.
“Omdat ons hooffokus wyn is, wil ons daarop konsentreer om ’n uitsonderlike leefstyl-aanbieding aan mense te bied, wat puik komplementerende aanbiedings sal insluit, hetsy dit tradisionele kosse of tema-spesifieke geleenthede is. Dit is waarom ons die proelokaal en die restaurant heeltemal nuut bou, want dááruit sal sekondêre aanbiedings vloei met satelliet-stalletjies wat tema- en seisoen-spesifiek sal wees. Eindelik is ons strewe om ook ’n familie-bestemming te wees, wat ’n wye ervaring bied.”
Fourie sê met die belegging van die nuwe eienaars is nie net die proses van sakeredding beëindig nie, maar ook alle krediteure is (met rente) betaal en die moontlikheid is gestuit dat die groter gebied in kleiner en uiteenlopende besighede en eenhede verkoop word. Ons fokus is om Simonsvlei as sterk wynhandelsmerk en leefstyl-bestemming onder een dak uit te bou, maar die vernuwing sluit ook in ’n kantoor-area wat bo die bestaande fasade gebou sal word asook ’n konferensiefasiliteit vir kleiner groepe. Die huurders op die perseel, soos die boetiek-brouery Karoo asook die Amerikaanse groep Jackson Family Wines, een van Amerika se voorste wynname, sal aanbly. Ons fokus sal op die Simonsvlei-handelsmerk en die uitbouing daarvan wees, maar ons weet ook watter krag daar in sterk vennootskappe of samewerking onder een dak is, het Fourie gesê. “Ons langtermyn-doelwit is dus om ’n uitsonderlike ervaring en superieure aanbieding onder een dak te vestig.”
Hoewel daar reeds gevorderde planne is om voortaan ’n wyer aanbieding onder die Simonsvlei-handelsmerk aan te bied – soos ook brandewyn, jenewer en selfs rum – sal die bestaande wyn-aanbieding versterk word.
Die sakereddingspraktisyn David Hotz het gesê die verwikkelinge by Simonsvlei kan beskryf word as ’n suksesstorie oor sakeredding, want nie net het die nuwe eienaars alle finansiële verpligtinge nagekom nie, maar het hulle ook die kapitaal om ’n werklik verrykende sakeplan suksesvol uit te rol.
“Dit is deurslaggewend, maar ook gerusstellend dat die nuwe eienaars besef hoe sterk die Simonsvlei-handelsmerk is,” het Hotz gesê.

