Simonsvlei se reusagtige bottel, wat van die R101 af, of te wel die Ou Paarlpad, asook van die N1 gesien kan word, is geklee in ‘n splinternuwe oranje-en-geel baadjie om dié kelder se nuwe Mimosa-drankie te adverteer. Hugolene Conradie (40), ‘n kunstenaar wat oorspronklik uit die Paarl kom, maar etlike jare reeds in Worcester woon, vertel meer oor die proses om hierdie bottel nuwe lewe te gee.
Volgens Simonsvlei se webtuiste is die Mimosa-drankie tans op winkelrakke asook aanlyn beskikbaar en word dit beskryf as ‘n “spritzer” gemaak van wyn deurdrenk met lemoengeur.
Die kelder het ook op sosiale media geskryf dat die reusebottel in 1988 gebou is en heeltemal hol is. Sou dit gevul kon word, sou dit 60 000 liter wyn hou (80 000 bottels).
Conradie sê sy het dié reuse bottel reeds in 2023 vir die eerste keer geverf toe Simonsvlei se Vineyard Selection Chardonnay destyds bemark is.

Volgens haar was dit dus ‘n groot eer toe die kelder haar ‘n tweede keer genader het om die bottel ‘n vars leksel verf te gee en het sy altesaam agt dae daaraan bestee, onder andere op 12 November toe sy haar 40ste verjaarsdag gevier het – hoog in die lug op ‘n hyskraan om die hele lengte van die bottel te verf.
Sy sê sy het polivinielasetaat-verf (PVA) gebruik omdat dit die elemente kan weerstaan en het die fyner detail met potlood geteken voordat sy later daaroor geverf het.
Om Simonsvlei se reusewynbottel te verf, beskryf Conradie amper as ‘n volle-sirkel-oomblik omdat sy en haar seun destyds, toe hy baie jonger was, gereeld verby die kelder gery en hy aan sy ma gesê het: “Mamma gaan eendag daai bottel verf”.

Dus kon sy nie glo toe Simonsvlei in 2023 die eerste keer na haar uitgereik het om dié bottel te verf nie. Dit was nadat die kelder op soek was na iemand om die bottel op te kikker en ‘n advertensie op sosiale media geplaas het waar kunstenaars uitgenooi is om hul portefeulje in te stuur.
Conradie is bekend vir, onder andere, haar murasies wat reg oor Worcester pronk, maar daarbenewens spog sy ook met haar eie kunsskool vir kinders, wat sy reeds 11 jaar bedryf, en verf sy ook af en toe kinders se gesigte. Sy het ook voorheen kunsklasse by die Laerskool Worcester-Oos aangebied, maar het ‘n paar jaar gelede ‘n geloofsprong geneem en haar eie onderneming geopen.
LEES OOK: Keldermeester by Simonsvlei gekroon as die beste vroue-wynmaker
Vandag is sy alom in Worcester bekend en het onlangs verskeie “minions” op regopstaande sementversperrings by die Waardemark in Worcester geverf, wat groot aandag gelok het. Buiten dit het Conradie ook in 2022 ‘n murasie by ‘n kleuterskool in Avianpark in Worcester as deel van ‘n televisie-uitsending van Dankie, Lottoland, geverf.


