Die ACVV vier 24 Oktober die 50ste bestaansjaar van Silwerkruin in Wellington.
Alle belangstellendes word na die geleentheid wat 17:30 in die Wellington Moederkerk se saal in Kerkstraat begin, genooi. Dié geleentheid vervang die gewone ACVV-jaarvergadering en die klem val op Silwerkruin se halfeeu.
Die pragtige geskiedenis van Silwerkruin het sy oorsprong reeds in 1916 gehad met die oprigting van die ou Dorkashuis. ’n Maatskaplike werker, ene mej. Leeuwner, was baie bekommerd oor die groot aantal eensame vroue in en om Wellington. Die oorspronklike gebou is vandag deel van Stokkiesdraai in Bainstraat. Die oorspronklike getal inwoners was 12, maar die behoefte het gegroei en in latere jare was daar 80 mans en vroue wat daar huisvesting gevind het.
Die ACVV het die ou Dorkashuis 14 April 1944 onder sy vlerk geneem. Die eerste komitee is in 1946 saamgestel om na die behoeftes van die inwoners om te sien. Die huisvesting en versorging van die ouer mense het ’n geweldige probleem geword as gevolg van die volksverskuiwing van die platteland na die stede waar huisvesting meer beperk en duurder was (Jaarverslag 1965 – 1966).
Marie van Biljon het 6 Junie 1966 voorgestel dat die moontlikheid van woonstelle en ’n versorgingseenheid vir die ouer mense oorweeg moet word. Van Biljon het die planne van ’n nuwe tehuis op die bestuursvergadering van 8 Junie 1968 voorgestel.
Dit is deur Ria Retief, wat vandag self ’n inwoner van Silwerkruin is, gesekondeer. Retief het ’n groot rol met die oorplasing van die Dorkashuis-inwoners na Silwerkruin gespeel. Lenie Basson het Woensdag 15 Januarie 1969 die eerste sooi vir die nuwe gebou gespit.
Die naam Silwerkruin is deur ’n mev. Bester gekies en Matilda Hauptfleisch het die embleem op die breekware ontwerp.
Silwerkruin is 12 Junie 1970 ingewy en het ná ’n jaar 80 inwoners, onder wie 20 verswakte bejaardes, gehad.
Die hooffokus van die jaarvergadering is Silwerkruin se 50-jarige bestaan. Die gasspreker by die geleentheid is Maggie Botha, streeksbestuurder van tehuise vir ouer mense. Die finansiële state van die ACVV Maatskaplike Dienste, die Dienssentrum en Silwerkruin sal ter insae wees.
Enigiemand wat belangstel, is welkom om die vergadering by te woon.
Skakel 021 873 1040 as jy nog inligting benodig.