Anna Stander, ’n boorling van Wellington, het verlede Woensdag (20 Maart) haar 102de verjaarsdag saam met haar kinders en kleinkinders gevier.
Dít maak haar een van die oudste Drakenstein-inwoners, en steeds vermaak sy die werknemers van die Silwerkruin-ouetehuis in Wellington, waar sy tans woon.
Dit is ook vir dié rede dat Elna von Schilcht, die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, by Stander besoek afgelê het.
Volgens Von Schlicht word elke inwoner in dié munisipaliteit wat 100 of ouer word, met ’n koek bederf.
Stander, met die nooiensvan Grobbelaar, is in 1922 gebore en het haar hele lewe in Wellington deurgebring.
Sy het op ’n familieplaas buite Wellington in ’n huis gewoon wat haar oupa met sy “eie hande” gebou het, vertel haar familie.
Volgens Erma Olivier, een van Stander se dogters, het sy haar toekomstige man en die pa van haar kinders op ’n toe-oog-afspraak ontmoet.
Sy het aan die Huguenot Seminary in Kollege-straat in Wellington, wat vandag bekendstaan as die Hugenote Kollege, gematrikuleer.
In haar jonger dae was Stander lief daarvoor om mense te versorg en dit is wat haar aangespoor het om verpleegkunde te studeer – ’n beroep wat sy tot haar aftrede beoefen het.
Hetsy dit was om na pasiënte of haar eie familie om te sien, het sy dit altyd met ’n vrygewige hart gedoen, sê haar familie.
Stander was ook vir 15 jaar ’n matrone by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.
“Sy was 17 toe sy matriek geskryf het, en omdat sy te jonk was, kon sy nie dadelik gaan studeer nie. Sy het altyd gesê as sy haar lewe kon oor hê, sou sy net weer wou verpleeg,” volgens die familie.
Stander moes telkemale die destydse Distrik Ses besoek as deel van haar verpleging, waar die “bende” van daardie jare vir Stander van haar motor af begelei het om sodoende veilig by haar pasiënte aan te kom.
Daardie jare se bendes was anders, sê Von Schlicht, met waardering vir veral diegene in medies.
’n Staaltjie – vertel deur Stander se kinders – handel oor hoe hul ma op sosiale geleenthede litte kon losmaak en op die maat van die musiek by familiepartytjies kon dans.
“Sy is ook baie netjies,” het die kleinkinders Melissa van Niekerk en Anna Burger vertel.
“Tydens skoolvakansies het sy ons [Anna se kleinkinders] kaste reggepak,” vertel hulle laggend.
Een straaltjie van wysheid wat die familie by Stander geleer het, lui “gooi jou brood oor die water, en dit kom terug”.
Volgens Olivier het haar ma hierdie spreuk elke dag uitgeleef, maar nooit daaoor gespog nie, wat dit net meer spesiaal gemaak het.


