Silwerkruin help brandslaners

Die inwoners van Silwerkruin Huis vir Bejaardes doen ook hul deel vir die brandbestryders wat in Bainskloof probeer om die brande onder beheer te bring.


Die inwoners van Silwerkruin Huis vir Bejaardes doen ook hul deel vir die brandbestryders wat in Bainskloof probeer om die brande onder beheer te bring.

Dit was ’n inisiatief van die inwoners self. Hulle het onder mekaar geld gekollekteer en bykans R2 000 ingesamel. Hiermee kon hulle water, energiedrankies, lipsalf en oogdruppels aankoop. Dit is vandeesweek aan die brandweerspan van KWDM oorhandig.

Teen Sondagaand was die brande in die Bainskloof-omgewing redelik onder beheer maar ’n nuwe brand het ontstaan, aangeblaas deur die stormsterk suidooster.

Die Oaklands-perde is inderhaas na veiligheid gebring en ongeveer 70 inwoners van die plase Doolhof- en Welvanpas-omgewing het hul huise ontruim. Hulle is by Wellington-Oos se kerksaal gehuisves.

Met die Silwerkruin-oorhandiging het die brandbestryders persoonlik van hul ontberinge vertel. Dit is baie duidelik dat hoewel hul werk baie gevaarlik is, hulle almal ’n passie het om mense en diere asook die habitat te beskerm. Daarom is hulle bereid om vir ure lank onverpoos op hul pos te bly.

Volgens hulle vergeet hulle van die gevaar waarin hulle verkeer en strewe daarna om ander te red en by te staan.

Wellington is trots op sy bejaardes vir hul inisiatief.

Wellington is veral trots op die brandweermanne, helikoptervlieëniers en al die ander persone wat hand bysit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.