Silwerkruin beloon

Die Silwerkruin ACVV Huis vir Bejaardes vorm nou deel van meer as 350 internasionale langtermyn sorg-gemeenskappe wat help om die lewenskwaliteit van die mense in hul sorg te verbeter.


Die Silwerkruin ACVV Huis vir Bejaardes vorm nou deel van meer as 350 internasionale langtermyn sorg-gemeenskappe wat help om die lewenskwaliteit van die mense in hul sorg te verbeter.

Eden Alternative South Africa is trots om aan te kondig dat Silwerkruin die eerste eenheid op sy Register is, nie net in Suid-Afrika nie, maar in Afrika.

The Eden Alternative, ’n nie-winsgewende organisasie asook ’n internasionale leier in organisatoriese kultuurverandering, bepleit ’n skuif van institusionele modelle van sorg na persoongerigte sorg, waardes en praktyke wat die persoon eerste plaas.

Die proses het agt jaar gelede begin toe die Silwerkruin Beheerraad besluit het dat hul ’n huis met ’n verskil wil ontwikkel – ’n huis waar daar opregte verhoudings is tussen inwoners en personeel. Met die hulp van GERATEC en die insette van kundige vrywilligers het hul ’n pad begin loop na persoongerigte sorg, deur personeel te bemagtig om te verstaan watter belangrike rol hulle vertolk om ’n verskil te maak in die lewens van ouer persone.

Die Voluit Vrou-program wat deur ’n borg moontlik gemaak is, het ’n fondasie gelê om die vroue van Silwerkruin op te hef, te betrek en te koester. Weeklikse vaardigheidsopleidingsprogramme is deur GERATEC, senior verpleegpersoneel en vrywilligers aangebied. ’n Kreatiwiteitsprogram het pragtige mosaïek appelbome laat opskiet in die binnehof.

Wat Silwerkruin se verbintenis tot hierdie pad meer besonders maak is dat dit ’n huis is wat tot ’n groot mate van staatsfinansiering asook geldinsameling afhanklik is. Daar is hard gewerk aan opleidingsprogramme en om dit in die elke dag se werksure in te pas, maar geleidelik het die atmosfeer verander van inrigting na huis.

Suid-Afrika is in 2010 bekendgestel aan ‘The Eden Alternative’, en Silwerkruin het hierdie filosofie met ope arms ontvang!

Die heel eerste Eden Alternative Associate-opleiding in Afrika is aangebied by Silwerkruin. Hierdie filosofie het hernude energie en passie ontlont. Dit was die wens van die Silwerkruin-span om die eerste huis op die Eden Alternative Register in Suid-Afrika te word. Ses jaar later is hierdie droom bewaarheid. Deur harde werk, toewyding, deursettingsvermoë, passie en bowenal die oortuiging dat hul personeel hul grootste bate is, is ACVV Silwerkruin ’n huis waar inwoners met waardigheid kan lewe, waar personeel opreg sorgvennote is en werk ’n veilige en stabiele omgewing bied vir baie van die werknemers.

Lewens is verander.

Lees meer oor die organisasie by http://edenalt.co.za/ asook http://www.edenalt.org/.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.