’n Volledige 108-stuk eetgerei van egte silwer, ter waarde van R170 000, is onlangs op ’n plaas langs die Perdeskoenpad in Wellington gesteel.
’n Betroubare bron sê die eienaar van dié erfporsie, ’n mediese spesialis, het Saterdag besef die stel is vermis toe hy besig was om goedere in sy huis te herorganiseer.
“Die eienaar het twee maande gelede meubels van sy huis in Johannesburg na die plaas in Wellington gestuur. Onder meer was die eetgerei, wat in ’n houtkissie verpak was, deel van die trek.
“Hy het mettertyd daarby uitgekom om al dié besittings uit te pak en mooi weg te bêre en toe tot die besef gekom dit is weg,” vertel die bron.
Die omstandighede wat daartoe gelei het dat die eienaar ontdek het die eetgerei is weg, dui daarop dat ’n moontlike verdagte opgespoor kan word.
Hy sê die hulp van private speurders is verkry. Die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het bevestig ’n klagte van diefstal word ondersoek.
“Ons volg tans leidrade op. Enigiemand met inligting oor die gesteelde eetgerei word gevra om my met enige leidrade te kontak,” sê Barkhuizen.
Die eetgerei het groot sentimentele waarde vir die eienaar.
“Dit is ’n egte silwer-eetstel wat uit Londen kom en van 1847 dateer. Vir die eienaar is die finansiële waarde nie van só ernstige belang soos die feit dat dit die afgelope ses geslagte in sy familie is nie,” het die bron ten slotte verduidelik.
Indien enigiemand enige leidrade oor die gesteelde silwer eetgerei het, word hulle gevra om kol. Barkhuizen by 082 777 6380 te bel.
- A complete set of 108 silver pieces of cutlery, worth R170 000 and originally from London dating back to 1847, was recently stolen from a farm in Wellington. Wellington police and private investigators are probing the theft as the owner wishes to retrieve this family heirloom that was passed down for six generations. Anyone with leads to the theft is asked to contact Col Johan Barkhuizen on 082 777 6380.


