Ek wil hiermee my uiterste teleurstelling oor die Paarl-munisipaliteit uitspreek.

My rybewys vir my bestuurders­lisensie het vroeër vanjaar verval. Ek is dus in Maart na die Daljosafat-toetssentrum om hiervoor heraansoek te doen. Eerstens moes ek tyd afneem by my werk om in rye te loop staan en dan ook moes ek met onbeskofte personeel te doen kry (nie almal nie), maar daar was wel ’n paar wat my behoorlik erg onthuts gelaat het.

In elk geval, ná so twee ure en natgesweet weens geen verkoeling daar nie, is ek weg met ’n tydelike rybewys in die hand en die belofte dat ek “binne ’n maand” ’n SMS sou ontvang om my te verwittig dat my bestuurslisensie-kaart reg is vir afhaal.

So gaan die tyd verby, maar niks gebeur nie.

Ek het drie weke gelede ’n nuwe voertuig gekoop. Ek moes my bestuurslisensie vir finansierings-doeleindes toon. Ek het ’n afskrif van my tydelike lisensie gegee en hulle het, omdat dit ’n tydelik lisensie is, die verkeersafdeling gekontak vir bevestiging.

My bank het my toe laat weet dat daar ’n probleem is met my lisensie-aansoek, want daar was fout met die foto’s en ek sal weer moet toustaan en die proses by Daljosafat herhaal.

Ek het meer as ses maande gelede hiervoor aansoek gedoen en is op geen tydstip in kennis gestel dat daar ’n probleem is nie.

Toe begin bel ek die sentrum om te hoor wat presies aangaan, maar natuurlik word die telefone daar nie beantwoord nie. So is ek weer na die toetssentrum, wat beteken ek moes weer tyd by die werk afneem en deur die gruwelike prosedure gaan – en dit ook in ’n haglike vuil staatsgebou.

Is hierdie die soort diens wat ons as munisipale belastingbetalers moet verduur?

Dit is patetiese dienslewering!


M.J.P.,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.