Shiraz SA het die uitblinkers van die 10de jaarlikse Shiraz SA Challenge Woensdag 17 Augustus in die Paarl aangekondig, en om die eerste dekade van dié kompetisie te vier, is ’n splinternuwe trofee en ’n groot geldprys aangekondig.

Die finaliste en bekendes in die wynbedryf het vir vanjaar se glanstoekenningsgeleentheid by Santé Wellness Retreat and Spa byeengekom. Die alombekende radio- en televisiepersoonlikheid Tracey Lange was die seremoniemeester en die befaamde musikant Schalk Joubert het die gaste vermaak.

Vinventions, die internasionale verskaffer van sluitmiddels vir wynbottels en wat reeds ’n geruime tyd by Shiraz SA betrokke is, was weer die hoofborg.

Nuwe trofee vereer vader van SA Shiraz

Opwindende nuus is die instelling van die nuwe Bernard Podlashuk-trofee, genoem na die “vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”. Die trofee, met ’n geldprys van R30 000, word deur Bellingham geborg. Bernard en sy vrou, Fredagh Podlashuk, het dié Franschhoek-plaas in 1943 gekoop en was die baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-shiraz in 1956 gebottel het. Die trofee is vanjaar toegeken aan die produsent wat die beste oor die 10 jaar van die Shiraz SA Challenge presteer het, met Saronsberg wat die prys voor die neus van ’n paar sterk kandidate weggeraap het. Volgens Edmund Terblanche, die voorsitter van Shiraz SA, sal die kriteria vir die Bernard Podlashuk-trofee voortaan “innovasie, uitnemendheid en volhoubaarheid” wees.

“Ons is ingenome met die voortdurende prestasievermoë van shiraz-produsente sedert die ontstaan van die kompetisie in 2013, asook van die shiraz-versnit- en shiraz rosé-kategorieë, wat onderskeidelik in 2014 en 2020 bygevoeg is,” sê Terblanche. “Ons sien uit na die potensiaal wat die volgende dekade vir dié kultivar inhou.”

Vanjaar se wenners

Sestien wenners is in die kompetisie se drie onderafdelings aangewys.

Die top-12-Shiraz van 2022 is:. Bon Courage Inkará Shiraz 2020 . Fuselage Side Slip Shiraz 2021. Cederberg Shiraz 2020 * Diemersdal Shiraz 2021. De Grendel Op die Berg Shiraz 2020 . Stellenbosch Reserve Syrah 2020. Saronsberg Shiraz 2020. Groot Phesantekraal Syrah 2021. KWV Cathedral Cellar Shiraz 2019. Driehoek Syrah 2020. Swartland Bush Vine Syrah 2020. Bellingham The Bernard Series Basket Press Syrah 2019

Die 2022 Shiraz-versnitwenners is:. Lomond Belladonna 2019. Bellingham The Bernard Series The Maverick 2019. Guardian Peak SMG 2020

Die 2022 Shiraz Rosé-wenner is:. Allée Bleue Shiraz Rosé 2022

Gehalte van inskrywings beïndruk

Die bekende wynmaker en keldermeester van De Grendel, Charles Hopkins, was die voorsitter van die beoordelaarspaneel. Die span gesoute proeërs op die paneel was Higgo Jacobs (Sommelier), Cathy van Zyl (Britse wynmeester), Riaan Möller (MAN Vintners-keldermeester en ondervoorsitter van Shiraz SA) en Frans Smit (Spier-keldermeester).

Hopkins sê hy was in die algemeen beïndruk met die gehalte van vanjaar se inskrywings. “Ek vind eikehout word slim gebruik. Daar is duidelike nuwe neigings soos laer alkohol. Meer vruggedrewe unieke shiraz-geure soos kombuisspeserye, Mediterreense speserye, en swart- en witpeper gee ’n nuwe diepte aan shiraz.”

Hopkins sonder shiraz van enkelwingerd-afkoms uit. “Hierdie wyne weerspieël ’n unieke milieu, wat eg is aan die plek van oorsprong, en vanjaar het ons daardie element weer ervaar.”

Die proestelsel, wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, bepaal elke beoordelaar proe die wyne in ’n unieke volgorde en geen gesprek word gevoer nie.

Die sagteware-en-ondersteuningsverskaffer Wine MS, wat sedert die ontstaan van die kompetisie betrokke is, het die beoordelaars weer bygestaan en die ouditeursmaatskappy Exceed Group het die proses gemonitor en die uitslae nagegaan.

Vier nasionale shiraz-dag op 21 Augustus

Ná die sukses van verlede jaar se eerste nasionale shiraz-dag nooi Shiraz SA vanjaar weer alle shiraz-entoesiaste om dié dag Sondag (21 Augustus) landwyd te vier.. Besoek www.ShirazSA.co.za vir al die uitslae en nog inligting. Gesels saam op sosiale media met #ShirazSAAwards en volg Shiraz SA op Twitter @Shiraz_SA, Facebook @ShirazSouthAfrica, en Instagram @shirazsouthafrica.

You need to be Logged In to leave a comment.