Shannon Cortereal (17). Foto: Argief


“Ons hoofuitgangspunt is dat ons bewusmaking van hierdie siekte wil doen.”

So sê Shannon Cortereal se pa, Bradley. Sy is Vrydagoggend in die waaksaal van die Paarl-hospitaal oorlede nadat sy griep opgedoen het.

“Sy is nou ’n voorbeeld van hoe erg die griep is. Die dokter by die hospitaal het self gesê dis ’n aggressiewe virus. Ek het self ook nog verlede week gedink dis alles net ’n klomp stories wat oor die griep versprei word, maar nou weet ek,” het hy Vrydagmiddag aan Paarl Post gesê.

Shannon het aan die einde van voorverlede week begin siek voel voordat sy uiteindelik hospitaal toe is.

Shannon Cortereal (17) was ’n gr. 11-leerder aan die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl. Foto: Argief

“Sy het my in Mpumalanga gebel, waar ek werk, en gevra ek moet geld stuur sodat sy dokter toe kan gaan. Die dokter het toe net vir haar pynmedikasie gegee. Ek het vir haar gesê sy moet teruggaan. Ek dink nie die algemene praktisyns weet wat aangaan met hierdie griep nie, of hulle hou hulle blind. As hulle nie weet hoe om dit te behandel nie, moet hulle dan liefs vir hul pasiënte sê as hulle oor ’n paar dae nog nie beter voel nie, moet hulle maar hospitaal toe gaan.”

Hy raai ook aan as mense na ’n staatshospitaal toe gaan, moet hulle aanhoudend met die verpleegpersoneel kommunikeer oor hul geliefde.

“Ongevalle werk mos volgens ’n triage-stelsel (prioriteitsbepaling). Dis eintlik waar die probleem lê. Shannon was eers groen, toe geel, maar sy was eintlik rooi. Daar moet eintlik een persoon wees wat die griep-innames daar hanteer. Vandat Shannon by die triage-afdelings was, het sy tien ure gewag om ’n dokter te spreek. Selfs die veiligheidsbeamptes daar is arrogant en weet nie wat aangaan nie. Kyk, dis ’n goeie hospitaal en ek wil hulle nie afbreek nie, maar wel opbouende kritiek vir hulle gee om hierdie griep beter te kan hanteer.”

Die familie is hard getref deur Shannon se dood, maar wil nie in ’n hoekie sit en huil nie.

“Ons kan in ’n hoekie gaan sit. Maar ons wil proaktief wees om ander ouers bewus te maak. Ons wil nie hê ander kinders wat dalk tydens die vakansie gaan siek word, moet dieselfde deurgaan nie. Ons is baie hartseer, maar ek voel ons moet luister na die Here en ander bewus maak.”

Bradley was baie trots op sy dogter, veral nadat sy besluit het sy wil in dieselfde rigting as hy gaan studeer.

Sy was baie vibrant. Sy was betrokke by die junior stadsraad. Sy was ook baie betrokke by die skool. Sy het fisioterapie vir die rugbyspanne gedoen. Sy het onlangs vir my gesê sy wil ook landbou gaan studeer, en ek was so opgewonde.
Bradley Cortereal

“Sy was baie vibrant. Sy was betrokke by die junior stadsraad. Sy was ook baie betrokke by die skool. Sy het fisioterapie vir die rugbyspanne gedoen. Sy het onlangs vir my gesê sy wil ook landbou gaan studeer, en ek was so opgewonde.”

“Sy en haar twee sibbe sou aan die einde van die jaar saam met my Mpumulanga toe gaan om na ’n lodge daar om te sien. Ons was opgewonde, maar nou is daai ook verby.”

’n Dokter van die Paarl-hospitaal het die familie omstreeks 04:00 gebel en gesê hulle moet hospitaal toe kom.

“Hy het gesê dis maar beter dat ons na Shannon toe kom. Sy het net vir ons gewag om by die deur in te stap, toe sterf sy.”

You need to be Logged In to leave a comment.