Sewe leerders van Wellington is vanjaar met die Winnie Rust-prys bekroon. Agter is Sharna Fernandez (Wes-Kaapse minister van die departement van sosiale ontwikkeling), Machonett Pietersen, Aschke Cloete, Winnie Nel (Winnie Rust se dogter), Sihle Mpini, raadslid Ewie Gouws en Britney Jasper. Voor is Kaylin Leppan, Nicolene Pietersen en Mariana Cedras. Foto: Devidean Moses


Sewe leerders van Wellington is onlangs met die gesogte Winnie-Rust prys bekroon omdat hulle, ten spyte van vele uitdagings en moeilike en negatiewe omstandighede, steeds skitterend presteer.

Hierdie eerbewys is ’n huldeblyk aan die geliefde Wellingtonner en bekroonde skrywer, Winnie Rust, wat 11 Mei 2016 vermoor is.

Christine Siebrits, ’n komiteelid, het gesê nadat die komitee die motiverings oor die leerders gelees het, kon hulle nie op een enkele wenner besluit nie omdat al sewe hierdie leerders almal verdienstelik vir die prys in aanmer­king kom.

Machonett Pietersen, ’n graad 10-leerder aan Wellington Sekondêr, het haar wenprys verdien vir haar akademiese prestasies.

Ten spyte daarvan dat sy onder meer finansieel sukkel om kop bo water te hou, is sy in 2016 as die hoofmeisie en duxleerder van St Albans Primêr aangewys.

In 2017 was sy die lid van die verteenwoordigende raad van leerders. In graad 8 by Hoërskool Wellington ontvang sy die AKTV-boekprys asook die wenprys as topleerder met ses diplomas.

Vanjaar het sy besluit om vir haar ’n groter uitdaging te stel en ekstra vakke geneem. Sy is ook ’n lid van die junior stadsraad.

Haar leuse is: “Moet nooit laat sukses jou onbeskof en hoogmoedig maak nie en moet nooit toelaat dat mismoe­digheid jou hart breek nie.”

Nog ’n wenner van Hoërskool Wellington, Aschke Cloete, het ook ’n indrukwekkende lys prestasies ten spyte van die moeilike omstandighede.

Die Cloete-gesin woon op Aschka se ouma se erf en haar ma, wat die enigste broodwinner is, werk slegs een dag per week as huishulp.

In graad 7 was sy die onderhoofmeisie asook die duxleerder by Wellington Primêr. In graad 8 is sy as die topleer­der in haar graad aangewys. En in graad 9 het sy as ’n lid op die verteenwoordigende raad van leerders by die skool gedien.

“Ten spyte van moeilike omstandig­hede doen Aschke haar bes en presteer sy in akademie. Sy word beskryf as ’n sonstraalkind en laat nooit blyk dat daar probleme is nie,” vertel Siebrits.

Nog ’n wenner uit die geledere van Hoërskool Wellington, Kaylin Leppan, ’n graad 9-leerder, het voorheen aan die nasionale wetenskap-olimpiade deelgeneem en ’n tweede plek in die graad 8-tot-10-afdeling behaal. Sy het nou ook ’n boek begin skryf wat sy hoop om eendag te publiseer.

Kaylin is ’n lid van haar kerklike jeuggroep wat probeer om kinders wat in probleemgebiede woon, te beskerm en met hulle te ondersteun. Haar ouers is geskei en lupus is by haar ma gediagnoseer.

Nog ’n wenner, Sihle Mpini, ook van Hoërskool Wellington, ly aan lupus, maar is ’n inspirasie vir talle mense.

Siebrits het in haar toespraak gesê as gevolg van Sihle se siekte gaan sy onder geweldige pyn gebuk en sy is gedeeltelik verlam, maar ten spyte hiervan het sy daarin geslaag om haar matriekjaar te bereik.

“Sihle verloor baie skoolwerk omdat sy dikwels in die hospitaal opgeneem moet word. Sy is intelligent en werk hard om verlore skoolwerk in te haal,” sê Siebrits.

Sy droom daarvan om ná skool aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

As gevolg van Mariana Cedras se intellektuele gestremdheid is sy ook as ’n wenner aangewys. Sy kon nie aanpas in hoofstroom-onderwys nie en het in 2016 as leerder by die nuutgestigte Wellington-vaardigheidskool ingeskryf.

“Mariana toon sterk leierseienskappe en is sedert 2016 hoofmeisie van haar skool. Sy word groot in ’n gebied waar drankmisbruik algemeen voorkom en woon dus by haar ouma,” sê Siebrits. Mariana vaar goed in sport, veral netbal en atletiek.

“Sy is op haar gemak wanneer sy toesprake voor belangrike mense moet lewer,” vertel Siebrits.

Britney Jasper, ’n wenner van Bergrivier Sekondêr, is in graad 12 en is een van die skool se toppresteerders.

“Sy is vasberade, altyd positief en het ’n borrelende persoonlikheid,” sê Siebrits. Britney se aanvanklike moeilike omstandighede het haar gemotiveer om haar bes te doen om te presteer.

“Behalwe vir haar goeie akademiese prestasies probeer Britney ook om haar dwelmverslaafde broer te help en te motiveer,” sê Siebrits. “Britney woon tans by haar kerkleraar sodat sy haar matriek kan voltooi.”

Nog ’n leerder van Bergrivier Sekondêr, Nicolene Pietersen, het as baba tweemaal breinvliesontsteking (meningitis) opgedoen, wat haar met lae spiertonus gestremd gelaat het.

Siebrits vertel: “Sy stap moeilik en kan nie op haar eie staan nie. Nicolene het hulp nodig om te loop, sukkel om te sien en het hulp met ander basiese vaardighede nodig. Dit is dus vir haar baie moeilik om gewone take te verrig.”

Siebrits sê Nicolene se ouers is plaaswerkers en kan nie bekostig om haar te neem om gereelde terapie te ondergaan nie.

“Haar ouers het gevrees sy sou nie in die hoofstroomonderwys inpas nie, maar sy het almal verbaas en is vanjaar in matriek en is vasberade om graad 12 te slaag,” verduidelik Siebrits.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article