Verlede Donderdagoggend (1 Augustus) het soos ’n doodnormale dag vir Wayne Muller en sy gesin begin sonder die wete dat hy later die dag tragies sou sterf.
Die 14-jarige is dood nadat hy omstreeks 15:00 op die Lustigan-pad in die landelike gebied van Paarl deur ’n vragmotor getref is.
Kapt. Louise du Plessis het die seun se gru-dood bevestig.
“Met die Paarl-polisie se aankoms op die toneel is ’n 14-jarige leerder dood aangetref. Volgens getuies het die leerder uit ’n skoolbus geklim en om die voorkant van die bus gehardloop en probeer om die pad oor te steek toe hy deur ’n aankomende vragmotor getref is. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.”
Die voorval het ten aanskoue van ander leerders by die nabye Ronwe Primêr gebeur.
Wayne was ten tyde van sy dood ’n leerder aan die Paarl Vaardigheidskool.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het bevestig die departement is ingelig oor die tragedie en het hulp verleen aan diegene wat geraak is.
“Ons wil ons innige meegevoel aan die familie, vriende en die skoolgemeenskap betuig. Die WKOD het beradingsondersteuning aan die skool gebied.”
Veronice Whatley, die hoof van Ronwe Primêr, sê sy sal die seun as ’n stil mens onthou.
“Wayne was die rustigste mens. Hy was pragtig en voorbeeldig. Hy het in almal se hart ingekruip – dit is die soort seun wat hy was. Ons as Ronwe Primêr is ook getref. Dit is vir ons ’n baie seer oomblik. Dis baie hartseer wat met een van ons leerders gebeur het. Ons almal probeer dit nog alles verwerk. Ons kinders het ook berading deur die WKOD ontvang.”
Paarl Post kon ten spyte van verskeie pogings nie Wayne se ma of sy familie bereik nie.