Die polisie en lede van hul forensiese patologiedienste Maandag (3 Februarie) op die toneel waar Francisco Isaacs (9) se lyk uit die plaasdam getrek is.Foto: Rasaad Adams


Die soektog na Francisco Isaacs (9) van Amstelhof in die Paarl het Maandagmiddag (3 Februarie) tot ’n tragiese einde gekom toe polisiedui­kers en die honde-eenheid sy liggaam digby die R101/Du Toitskloofpad naby die Hugenote-tolplaza uit ’n plaasdam getrek het.

Francisco is Sondag (2 Februarie) deur sy familie by die Paarl-Oos-polisie as vermis aangemeld.

Hy en twee van sy vriende het glo die Sondagmiddag by die dam geswem. Die dam, wat tans nie omhein is nie, se omheining is glo gesteel, wat dit maklik maak vir enigiemand om die terrein te betree.

Paarl Post kon teen druktyd nie bevestig aan wie die plaasdam behoort nie.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, het bevestig dat ’n geregtelike nadoodse ondersoek deur die polisie geopen is.

Volgens haar het die Paarl-Oos-polisie Sondag ’n soektog van stapel gestuur en Maandag polisieduikers asook die honde-eenheid by die soektog betrek.

Shureta Majoor, Francisco se tannie wat hom grootgemaak het, het aan Paarl Post gesê die familie en Francisco se maatjies, wat saam met hom geswem het, is verpletter.

“Ons sukkel nog om te verstaan hoekom hulle daar sou gaan swem, want ons sou hulle altyd vra om weg te bly van sulke plekke. As dit warm was, sou hy altyd hier by die huis in ’n drom water afkoel, of ons sou tot by die munisipale swembaddens stap.”

Francisco Isaacs (9)

Francisco Isaacs (9)

Majoor het gesê hulle het Sondag deur die nag na hom gesoek.

“Ons bure en ander in die straat het gehelp. Ons het tot Maandagoggend 06:00 nog na hom gesoek en die soektog om 09:00 hervat. Ons was nie seker of hy wel by die dam kon wees nie en het dus op ander plekke ook gesoek. Die polisie het toe Maandagmiddag sy ma kom haal nadat ’n kind se liggaam in die dam gevind is. Dit was Francisco.”

Volgens Majoor het Francisco se twee maats nie dadelik Sondadmiddag aan die familie kom vertel dat hy verdrink het nie.

“Ons vermoed dat hulle maar nog in daai stadium geskok was. Selfs bang. Hulle het seker self nie geweet hoe om die gebeure te hanteer nie.”

Die mamma van een van Francisco se maats het glo later aan Majoor kom sê dat haar seun erken het dat hulle in die dam geswem en Francisco toe verdrink het.

Francisco was ’n gr. 3-leerder aan Amstelhof Primêre Skool. Hy was ’n kranige rugby- en krieketspeler.

“Hy was veral lief vir rugby. Hy het altyd sy hart uitgespeel en was omtrent spoggerig en trots op die rugbyveld. Sy skoolmaats het hom Mapimpi genoem. Ek dink hy het groot rugbydrome gehad – so klein soos wat hy was.”

Die familie sal na verwagting Donderdag (6 Februarie) sy lyk gaan uitken.

You need to be Logged In to leave a comment.