Sjoe, ek kan amper nie glo dat ons amptelik in die maand van bloeisels, blomme en vernuwing is nie.
Die bloeisels wat oral kop uitsteek en die klein geel en wit blommetjies wat die velde vol staan laat my sommer glimlag. Almal begin ook werskaf en regtrek ná die winterseisoen.
Maar Septembermaand laat jou ook besef dat die jaar vinnig besig is om na sy einde te stap en dan dink ek ’n mens moet ’n bietjie selfondersoek doen om te kyk wat jy die jaar bereik het en hoe jy jou naaste behandel het.
Ek hoop ook dat ons as inwoners van die mooiste dorpe in die land kan besef dat die natuurskoon waarmee ons elke dag opstaan, na omgesien moet word.
Kom ons maak saam ons dorp mooi, begin skoonvee voor jou eie deur (letterlik en figuurlik), want hoewel jy ietsie kleins vermag, dra jy positief tot die groter prentjie by.

