Die jong lewe van die Getroud Met Rugby-akteur, die Paarliet Runaldo Hendricks, is Saterdag kortgeknip.
Runaldo is in die vroeë oggendure dood nadat hy in ’n motorongeluk op die R44 betrokke was.
Sharmun Erasmus, Runaldo se neef, het bevestig dat die oorledene saam met vriende onderweg was vanaf Gouda na Saron, toe die ongeluk gebeur het.
Volgens Erasmus was die 27-jarige ’n insittende in die agterkant van ’n bakkie.
“Hulle was vyf wat onderweg was Saron toe, want hulle sou later ’n rugbywedstryd bygewoon het.
“Kyk, Runaldo was vreeslik lief vir rugby; hy het self ook rugby gespeel en het ook in die sepie Getroud Met Rugby gespeel.”
AO Mandla Dawede, ’n woordvoerder van die Saron-polisie, het die voorval bevestig.
Volgens Dawede word daar beweer dat die voertuig se linkervoorband gebars het en daartoe gelei het dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en die voertuig in ’n sloot beland.
“Ongelukkig is Runaldo Hendricks op slag dood as gevolg van die beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het nadat die voertuig ’n paar keer gerol het en op sy dak tot stilstand gekom het.
“Die bestuurder en die ander drie passasiers is met ernstige beserings, maar in ’n bestendige toestand, na die Porterville-hospitaal geneem.”
Dawede het gesê dat die polisie besig is om die voorval te ondersoek.
Runaldo het die rol van Zappa sedert die begin van 2016 in die bekende sepie vertolk. Dit is hoe hy in kykers se hart gekruip het.
Sy skielike dood laat ’n groot leemte in die vermaaklikheidsbedryf, sy familie en vriende.
Erasmus beskryf Runaldo as ’n sprankelende mens wat almal om hulle wou hê.
Sy ma is ’n paar jaar gelede aan ’n aneurisme in die brein dood.
Runaldo laat sy grootouers, Magdaleen en Samuel Dankers, asook ’n oom, Marshall Dankers, agter.
Geen begrafnisreëlings kon teen druktyd bevestig word nie.
* The young life of the Getroud Met Rugby actor and Paarlite Runaldo Hendricks was cut short in a car accident on Saturday.