Sentrum vir spiritualiteit

Planne om ’n groot, internasionale sentrum vir spiritualiteit in Wellington tot stand te bring, is vinnig besig om vorm aan te neem.


Planne om ’n groot, internasionale sentrum vir spiritualiteit in Wellington tot stand te bring, is vinnig besig om vorm aan te neem.

Die Hugenote Kollege het oor die afgelope maande in ’n reeks vergaderings met belanghebbendes planne bespreek om die gebouekompleks wat indertyd op Wellington opgerig is om sendelinge op te lei, te omskep in ’n beoogde Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit.

Hierdie geboue, wat tussen 1877 en 1905 opgerig is, bekend as die Samuel-kampus, sluit in die sierlike Huis Samuel, die naasliggende Murray Jubileum Zaal en Clairvaux, Andrew Murray se pragtige woning wat ook op die terrein geleë is.

Volgens dr. Willie van der Merwe, rektor van die Hugenote Kollege, verteenwoordig die geboue op die Samuel-kampus die spiritualiteit van Andrew Murray wat deur die jare sterk neerslag gevind het in die NG Kerk.

“Hierdie spiritualiteit is al deur navorsers beskryf as ‘nugtere mistiek’, want Murray het deurgaans geleer dat die mens vanuit ’n verhouding van kindskap met God geroep word om die koninkryk van God te dien.

Ons vind reeds by Murray die saad van missionale denke wat holisties dinge soos die opheffing van armoede en van vroue en die menswaardigheid van alle mense insluit.”

Die NG Kerk se sinode van die Wes-Kaap het in 2015 ’n taakspan aangewys wat aandag aan die ontwikkeling van missionale spiritualiteit gee. Die taakspan het onder meer ander sentra vir spiritualiteit besoek om navorsing te doen oor die funksionering van sulke sentra.

Die Hugenote Kollege op Wellington vorm deel van hierdie taakspan en daar word voorsien dat die kollege in die toekoms ’n aktiewe rol in die ontwikkeling en bestuur van die beoogde sentrum vir spiritualiteit sal speel.

Dit is juis met die oog op die rol wat die kollege in die ontwikkeling van so ’n sentrum gaan speel, dat planne opgestel is oor hoe die geskiedkundige geboue op die Samuel-kampus aangepas kan word om volledig deel van die sentrum kan wees. ’n Voorlegging om die verandering te verduidelik, is verlede Vrydag aan Wellington se erfeniskomitee gemaak.

Volgens die voorlegging sal Huis Samuel omskep word om gerieflike oornagplek aan besoekers te bied.

Daar sal ook, binne die riglyne van die erfeniskomitee, veranderinge aangebring word om die kompleks beter teen brande te beveilig en van die kleiner geboue op die kampus sal afgebreek word om onder meer plek te maak vir ’n ruim kapel.

Die tuine en die riviere voor die kampus sal alles ontwikkel word om ’n rustige omgewing te help skep waar besoekers kan wandel en kan stilraak.

Na verwagting sal nie alleen Suid-Afrikaners die nuwe sentrum in groot getalle besoek nie, maar ’n groot aantal oorsese besoekers sal na verwagting die kursusse wat daar aangebied gaan word, kom bywoon.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.