Vir baie inwoners – maar veral kinders – is die Tiffany’s MCM-gemeenskapsentrum in die Lantana- en Magnoliagebiede in Paarl-Oos ’n baken van hoop.
Die sentrumbestuurder, Jennifer Arendse, het onlangs die Paarl Post op ’n toer geneem en gewys wat die sentrum alles vir die gemeenskap bied. Sy vertel voor haar reis by Tiffany’s begin het was sy eers betrokke by Khula Development Group as ’n vrywilliger, asook by die Paarl-Oos polisie se traumakamer.
“Ek het toe op 14 Januarie 2008 by Tiffany’s beland. Ek het as ’n veldwerker buite gewerk. As daar mense was met probleme, het ons saam met hulle na Badisa toe gegaan. Ons het met school dropouts gewerk totdat ek in die bestuur van die plek gevorder het. Tiffany’s, wil ek sê, is ’n plek van hoop vir onse gemeenskap.
“Ons het ’n kleuterskool waar ons ook met die ouers werk, want wat ek sien is dat baie van ons ouers baie stukkend is. Die rede hoekom ek sê dit is ’n plek van hoop, is omdat ons nou ook ’n berader het. Greta le Roux is nie elke dag hier nie, maar wanneer probleme opduik wat ons nie kan hanteer nie, dan bel ons haar. Sy kom in en doen dit gratis vir ons. Enigeen is welkom om by Tiffany’s vir berading te kom aanklop.”
Volgens Arendse het hulle ook al baie families gehelp en ouers wat kom aanklop vir hulp vir hul dwelmverslaafde kinders.
“Ons het baie suksesverhale van jong mense wat bo uitgekom het. Ek stap baie kere in die dorp en dan het ek al vergeet wat ek jare terug gedoen het vir kinders vir wie ons gehelp het. Dan sal hulle na my toe kom en vra of ek hulle onthou.
“Ek en Cathy (Ross) het nou die dag ’n verpleegster raakgeloop wat gevra het of ons haar onthou. Ek sê toe dat ek haar nie meer kan onthou nie, maar dat haar gesig bekend lyk. Sy verduidelik toe die hele verhaal hoe sy gekom het met haar ma en sy was verskriklik hardgebak en sy wou nie hulp hê nie, maar sy het toe later van tyd self gekom.”
Arendse onthou daar was ’n tyd toe daar ook baie konflik was onder verskeie bendes in die gebied en die span by Tiffany’s het hande geneem om te help om die vrede te herstel.
“Aunty Cathy was die een wat met haar stoel in die straat gegaan het en gesê het ‘vandag moet julle my maar met klippe gooi’. So het ons hierdie kinders wat betrokke was by bendes gevat en bymekaar gebring. Ons het die hulp ingeroep van baie pastore en baie was eintlik ’n bietjie bang om te kom. Daai was die beginpunt wat vrede gebring het in onse gemeenskap.
“As ons vandag kyk, dan sien ons dit is rustig rondom ons; motors kan maar buite staan.
“Daar was ’n tyd toe ons nie eens die saal kon uitverhuur het nie en ons nie geld gehad het om enigiets te doen nie. Mense wou nie die saal huur nie, want dit was te deurmekaar hier buite. Vandag, as ek terugkyk, dan sien ek waarlik dit het rustiger kom word.”
Aletia Grundling, uitvoerende direkteur van Monte Christo Miqlat (MCM), beaam wat Arendse sê.
“In 2016 met die hewige jeugbende- bedrywighede rondom ons sentrum was Tiffany’s ’n ‘plek vir asielsoekers’ in die vorm van die Barbarian-jeugbendegroep. Ons het hulle in die gebou ingenooi om in die gym op die fietse en gewigte te oefen, daagliks vir ’n uur, en daarna ’n heerlike gekookte ete in die saal voorgesit. Ná ses maande het ons MCM- drama- en skryfskool begin en het die groep hul drama- en skryftalent kom ontwikkel, en dit het twee boeke wat gepubliseer is, opgelewer. Hierdeur kon ons in die gebied vrede en versoening bou.”
Die sentrum bied verskeie opvoedkundige programme aan soos naaldwerk, rekenaaropleiding vir volwassenes, ekstra wiskundeklasse en nog meer. Daar is ook ’n biblioteek en ’n dagsorgsentrum en ’n nasorgprogram word ook bedryf.
Arendse is van mening wanneer jy by ’n sentrum soos Tiffany’s werk, moet dit uit jou hart kom en nie vir finansiële gewin nie.
“Om hier te werk, moet jy nie kom om vir geld te werk nie. Jy moet ’n passie hê en liefde hê om die werk van die Here te doen, want as jy hier instap en jy kom om te werk en dit gaan nie oor die passie en liefde wat jy het nie, dan gaan jy nie lank hou nie.”