Sentrum bereik nuwe hoogtepunte

Die Breytenbach-sentrum in Wellington het vanjaar ’n nuwe hoogtepunt behaal op sy lang tog om van Wellington ’n plattelandse dorp in die Wes-Kaap te maak wat oor ’n volwaardige en hoogs stimulerende kultuursentrum beskik.


Die Breytenbach-sentrum in Wellington het vanjaar ’n nuwe hoogtepunt behaal op sy lang tog om van Wellington ’n plattelandse dorp in die Wes-Kaap te maak wat oor ’n volwaardige en hoogs stimulerende kultuursentrum beskik.

Die sentrum word gehuisves in die netjies gerestoureerde eertydse losieshuis wat vir baie jare deur die Breytenbach-gesin op die dorp bedryf is.

Verskeie bekende Wellingtonners het die afgelope paar jaar ’n sleutelrol gespeel in die groei en ontwikkeling van die Breytenbach-sentrum. Hulle het daarin geslaag om deur uitsonderlike kursusse en slypskole mense wat droom om hul skryf- en skildertalente te ontwikkel te help om nuwe hoogtes te bereik.

Hulle het ook die afgelope klompie jare daarin geslaag om deur die optrede van bekende gaskunstenaars en met praatjies oor ’n wye verskeidenheid van onderwerpe ’n splinternuwe dimensie tot die kultuurlewe op Wellington te voeg.

Die gereelde kunsuitstallings in die Breytenbach-galery deur bekende kunstenaars sorg dat kunsliefhebbers van heinde en ver na Wellington stroom om na die kunsuitstallings wat gereeld hier te sien is, te kom kyk.

Boonop vind baie interessante gespreksbyeenskomste ook hier plaas.

Die laaste praatjies was deur Deon Maas en Peter Veldsman aangebied.

Behalwe vir die gereelde uitstallings en praatjies in die Breytenbach-galery het die gereelde vertonings in die sentrum se Bôrdienghuis-teater ook die afgelope ses maande nuwe hoogtes bereik.

Helena Hettema, Gert Vlok Nel, Piet Botha, Marc Lottering en Anna Davel het almal die afgelope paar maande voor groot en geesdriftige gehore in die Bôrdienghuis opgetree.

Die jaarlikse Tuin van Digters-fees wat vanjaar vanaf 6 tot 8 September by die sentrum gehou is, is besig om saam met bekende feeste soos die Woordfees op Stellenbosch ’n belangrike plek in te neem onder die groot letterkundefeeste wat jaarliks landwyd aangebied word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.